“Ons moraal is baie laag; ’n mens voel nie meer lus om te gaan werk nie.”
Só sê ’n boukontrakteur nadat hy en sy werkers onlangs in Langebaan deur taxibestuurders geïntimideer is.
Die betrokke kontrakteur het Weslander na aanleiding van verlede week se berig oor taxigeweld in die omgewing (“Mans erg langs pad aangerand”, 9 Februarie 2023), genader en sy vreesaanjaende ervaring gedeel.
Die boukontrakteur, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, sê hy en sy personeel het Vrydag 3 Februarie in Langebaan gewerk. Hy was besig om te bestuur en sy werkers was agter in die bakkie toe hulle tussen 14:00 en 15:00 deur mans voorgekeer is wat met hul voertuie voor die bakkie in die pad kom stilhou het.
Die boukontrakteur sê die mans het aanvanklik vriendelik voorgekom en baie vrae gevra.
Die mans wou glo by die bouer weet waar die bouperseel is, waar hy bly en waar sy werkers woon.
“Ek het hulle gevra wie hulle is en wat die rede is dat hulle die pad blokkeer,” het die bouer vertel.
Die mans het hom glo ingelig dat hulle verbonde is aan die plaaslike taxi-bedryf. Toe hulle hoor die bouperseel is in Langebaan en die werkers woon in Vredenburg, het hulle glo aan die boukontrakteur gesê hy mag nie meer sy werkers vervoer nie. Hulle moet van nou af taxi ry en hy moet hulle taxigeld betaal.
“Daarna is ons begelei tot by ’n taxi waar hulle my werkers gedwing het om in te klim. Die een man het ’n vuurwapen by hom gehad.
“Ek moes toe dadelik die taxigeld gee sodat hulle huis toe geneem kon word,” het hy verduidelik.
Die boukontrakteur betaal sedertdien daagliks vir sy personeel sodat hulle van taxi’s gebruik kan maak om werk toe en terug vervoer te kan word, maar hy sê dis ’n ekstra onkoste waarvoor nie begroot is nie.
Hy is te bang om die kans te waag om weer sy werkers self te vervoer.
Hy sê ook die traumatiese ervaring en daaglikse vrees waarmee hulle nou saamleef, het hom heeltemal ontmoedig en hy is selfs lus om die handdoek op die boubedryf in te gooi, veral in die lig van ander uitdagings in die bedryf wat hom voortdurend beproef.
Hy sê egter hy sal ter wille van sy werkers met die werk aangaan.
“My vrou voel ek moet wegstap van alles, maar dis nie so eenvoudig nie. My werkers en hul gesinne is afhanklik van die inkomste.
“Ek is maar een van die slagoffers. Daar is baie ander mense wat ook so geïntimideer is. As ons moet saamstaan, sal ons meer as die taxi-mense wees, maar almal is te bang om iets te sê of te doen.”
Weslander het vroeër berig oor voorvalle van taxigeweld, waaronder ’n voorval waar ’n bestuurder wat werkers van Vredenburg af Port Owen toe vervoer het, langs die pad aangerand is. ’n Passasier is met ’n mes in die been gesteek.
In ’n tweede voorval is nog ’n man aangerand toe hy sy werkers van Witteklip (Hopland) in Vredenburg na ’n nabygeleë plaas wou vervoer.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is ’n vergadering met verteenwoordigers van die plaaslike taxivereniging Woensdag 8 Februarie belê om die saak uit te pluis en verdere geweld te voorkom.
Teen 10 Februarie is voorvalle van intimidasie wat by die Jacobsbaai-afdraai plaasgevind het by die polisiekantoor aangemeld.




