Die onlangse minibustaxi-staking het groot ontwrigting gebring vir leerders en onderwysers oor die land heen.
Volgens die provinsie se onderwysdepartement het gemiddeld meer as 20 000 leerders in die Weskus-onderwysdistrik daagliks kritieke onderrigtyd misgeloop nadat leerders nie die nodige vervoer gehad het om by skole uit te kom nie.
Karyke Smit, waarnemende skoolhoof van Steenberg’s Cove Primêr, sê afwesigheid by die skool was ’n klein bietjie hoër as gewoonweg. Smit sê wel die busdienste waarvan die skool gebruik maak, het normaalweg voortgegaan. “Daar was dus busvervoer vir leerders. Maar van die assistente kon nie by die skool uitkom nie as gevolg van minibus-taxi’s waarvan hulle afhanklik was.”
Smit voeg by dat die leerders wat wel afwesig was grotendeels by die huis gebly het omdat ouers versigtig wou wees en bekommerd was oor hul kinders se veiligheid en die bespiegeling dat daar geweld op die paaie sou wees.
Hylton Langly, hoof van die Laerskool Panorama, sê dit was ook die geval by hul skool dat ouers verkeerde inligting ontvang het oor wat moontlik kan gebeur.
“Private operateurs het ook die besluit geneem dat dit nie veilig is om kinders skool toe te ry nie. So daar was ’n bietjie ontwrigting vir so twee dae,” sê Langly.
Volgens Kerry Mauchline, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het die aantal leerders wat skool bygewoon het daagliks gewissel.
“Die dag met die hoogste afwesigheidsyfer was verlede Dinsdag, 8 Augustus, toe 25 000 leerders in die Weskus-distrik afwesig was. Dit is ongeveer 34% van die algehele aantal leerders in die distrik.”
Langly voeg by dat alles na normaal teruggekeer het op Maandag 14 Augustus. Mauchline sê daar was Maandag ’n massiewe verbetering in skoolbywoning met 1 074 649 leerders teenwoordig by skole in die Wes-Kaap.
“Noudat die minibustaxi-staking verby is, doen ons ’n beroep op ouers om asseblief saam met ons te werk en te verseker dat kinders teruggaan skool toe. Ons benodig ons leerders terug in die klas, sodat ons daaraan kan werk om hulle terug op koers te kry.”




