Tannie Ritha van Schalkwyk het die mylpaal van 100 jaar behaal.
Dié inwoner van Saldanha het haar verjaarsdag Saterdag (8 Julie) saam met haar kinders gevier. Sy is op 6 Julie 1923 in Calitzdorp gebore, en haar familie sê sy glo tot vandag toe nog dis die Here wat haar deurgedra het.
Sy het die skuif na Saldanha saam met haar man, Coenraad van Schalkwyk, in 1955 aangedurf, toe hulle by sy ouers gewoon het.
Die paartjie het later ’n erf onder die bult van haar man se ouerhuis gekoop en tot sy afsterwe in 2000 daar gewoon.
Tannie Ritha is nie net ’n trotse ma van agt kinders, van wie daar net 5 oor is, nie, maar ook ouma van 20 kleinkinders en oumagrootjie van 25 agterkleinkinders.
Tannie Ritha se dogter Erna Brand sê haar ma is haar rolmodel en ook vir vele ander wat haar ken. “As jy enige tyd van die dag of nag by ons huis aankom, was daar altyd ietsie lekkers te eet – van ’n outydse soetkoekie tot ’n bord heerlike gekookte kos soos net sy kon maak. Daar was altyd plek aan ons eettafel vir ’n ekstra vriend, vriendin of skoolvriend van een van ons kinders. Dis wat my altyd van my moeder sal bybly.”
Die verjaarsdagdame se jongste dogter, Waldene Boonzaaier, deel graag dat haar ma vir haar ’n regte “steunpilaar en ystervrou” is. “Sy was nog altyd vir almal daar en was ook altyd reg om te help waar sy kon. Lank lewe ons mamma; dankie Jesus.”
Volgens Hannele Swanepoel sal dit haar altyd bybly hoe lief sy vir haar Hemelse Vader is, “want sy het ook altyd – as ons as kinders baklei het gesê ‘Kindertjies, julle moet mekaar liefhê!’ Sy is die beste moeder wat ’n mens ooit kan hê!”
As deel van haar verjaarsdagvieringe het André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, ook besoek afgelê.
Om die 100-mylpaal te haal, was nie altyd maklik nie, vertel tannie Ritha.
“Maar met die genade van die Here kon ek dit bereik. Ek gee al die lof en eer aan my Hemelse Skepper. Ek kan nie glo dat die Here my so lank en nog altyd deurdra nie.” Tannie Ritha sê sy is so dankbaar “en al die lof en die eer kom ons Hemelse Vader toe”.





