Pas nadat sy die mylpaal van 100 jaar gehaal het, het tannie Ritha van Schalkwyk Donderdag 3 Augustus sag in haar slaap heengegaan.
Tannie Ritha, ’n inwoner van Saldanha, het Donderdag 6 Julie vanjaar 100 jaar oud geword en haar verjaarsdag Saterdag 8 Julie saam met haar familie gevier (“Tannie Ritha vier haar 100ste jaar, Weslander, 13 Julie).
Een van tannie Ritha se dogters, Hannele Swanepoel, sê dit was so skielik en in ’n mate het hulle dit nie verwag nie.
“My Hemelse Vader het vir my die beste, wonderlikste, sagste moeder gegee wat geleef het in die vrese van haar Hemelse Vader, en ons ook so grootgemaak het,” sê Swanepoel.
Sy verduidelik dat haar ma ’n hart van goud gehad het, en altyd omgesien het na dié rondom haar. “Daar was altyd ekstra kos op die stoof vir ’n honger kuiergas en haar deure het altyd oopgestaan vir enigiemand wat honger en dors was. Sy was ’n fenomenale vrou – vol liefde en omgee. Haar kinders bedank haar vir die wonderlike voetspore wat sy in elkeen van ons se lewe gelaat het.”
Die familie beskryf haar as een wat ’n vol lewe geleef het. Haar oudste kleindogter sê sy gaan haar ouma se sang, haar humor en spitsvondigheid mis. “Ouma was ’n warm mense-mens en gou om te glimlag. Sy was kwaai, maar jy het duidelik geweet dis wat jy gedoen het wat haar afkeur verdien, nie wie jy is nie.”
Swanepoel sê hulle gaan hul moeder vreeslik mis. “Ons weet hoe lief mamma vir ons Hemelse Pappa was, en ons weet dat mamma nou aan Sy sy is en blakend gesond is en vir ons wag. Ons mis mamma reeds ongelooflik, maar gun mamma die rus.”
Tannie Ritha se begrafnis sal Saterdag (12 Augustus) om 13:00 in die NG kerk Saldanha plaasvind.





