Strand, see en ’n plattelandse leefstyl met geriewe van die stad blyk vele na die Weskus te lok.
Danksy talle ontwikkelings in die streek blyk dit die Weskus lok baie nuwe inwoners en beleggers.
Weslander verneem van ’n plaaslike eiendomsagent van ’n toename in veral intrekkers van ander provinsies na afloop van die Covid-pandemie wat ervaar word. Dit blyk meer mense wil plaaslik leef en werk.
Volgens Charlene Frick, ’n agent by Allen’s Real Estate, is dit veral gesinne wat in die afgelope jare na die Weskus verhuis. “Dit is mense wat veral van Natal of Gauteng kom. Langebaan en Vredenburg is gewild [onder] gesinne en ek vermoed dit is gewis vir veiligheid dat mense uit die stad trek,” verduidelik sy.
Volgens die Saldanhabaai-munisipaliteit se jongste Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplanning (GOP) was die bevolking van Saldanhabaai 123 070 in 2021. Die munisipaliteit verwag dié syfer sal teen 2025 tot 129 209 styg.
Buiten gesinne blyk dit beleggers is ook bereid om nader aan die Saldanha-hawe, Saldanhabaai-nywerheidsontwikkeling en talle ander ekonomiese geleenthede te trek. Weslander het onlangs met André de Villiers, voorsitter van die Weskus-sakekamer, gesels, en hy meen ten spyte van burokratiese rompslomp kan die Weskus ’n aantreklike gebied vir baie wees.
“Baie beleggers sien die Weskus as die ideale gebied om hulle te vestig. Die eerste ding wat hulle egter wil weet, is hoe bestendig die kragnetwerk is, maar plaaslik het ons die vermoë om elektrisiteit op te wek,” meen De Villiers.
Dienste soos die Saldanhabaai-munisipaliteit se Baobab-veselprojek en die Bergrivier-munisipaliteit se projek om optiese vesel in hul gebied aan te bring, blyk ook ’n trekpleister te wees.
Die munisipaliteite beoog om met dié projekte internetdienste aan inwoners te bied.
In die Saldanhabaai-munisipale gebied is 124 km se slote vir die Baobab-projek in Vredenburg gegrawe (teen 12 Augustus). In Saldanha is 70 km en in Langebaan 72 km vir die vesel-infrastruktuur gegrawe. Met ekonomiese ontwikkeling, verbeterde dienste en die tradisionele sand en see blyk dit talle mense wil die Weskus hul tuiste maak.




