Nooddienste is Dinsdag (2 Mei) ontbied na die Moorreesburg-afrit op die N7, nadat ’n petroltenkwa omgeslaan het. Niemand is in die voorval beseer nie.
Dit volg skaars ’n maand nadat ’n petroltenkwa tussen Hopefield en Vredenburg aan die einde van Maart ook omgeslaan het.
Verder is drie mense Sondag (30 April) in ’n ongeluk omstreeks 16:45 by die Langebaanweg-afrit tussen Vredenburg en Saldanha lig beseer. Twee voertuie was in die ongeluk betrokke.
Volgens die Saldanhabaai-munisipaliteit was die R45 tussen Hopefield en Vredenburg naby die Elandsfonteinmyn ook Sondag tydelik gesluit weens ’n vragmotor wat die pad versper het. Die bestuurder het vermoedelik ’n U-draai in die pad probeer maak waarop die vragmotor geknipmes het. Die verkeer van Vredenburg, Malmesbury en Hopefield is via die Hartebeesfontein- en Ou Vredenburgweg herlei.





