Verskeie moorde is die afgelope naweek in die Weskus-polisiedistrik gepleeg.
Die lyk van ’n 18-jarige man is Saterdagmiddag (28 Januarie) om 17:20 in Lysterstraat, Witteklip, ontdek.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die distrik, is twee mans – onderskeidelik 28 en 26 jaar oud – in verband met die moord in hegtenis geneem.
Nog ’n jongman (19) van Moorreesburg het sy lewe die afgelope naweek verloor toe hy Sondag (29 Januarie) in die vroeë oggendure met ’n mes doodgesteek is.
Helfrich sê die oorledene is in Anemonestraat met ’n meswond aan die nek gevind.
Sy vermeende aanvaller is in hegtenis geneem.
’n Man (46) van Lutzville is Sondagmiddag weens die moord op ’n 57-jarige inwoner van die Môrewag-plaas in hegtenis geneem.
Die motief vir die moord is nog onbekend.
Die verdagte het Dinsdag (31 Januarie) in die Lutzville-landdroshof verskyn.
In nog ’n voorval in Malmesbury word die moord van ’n man (28) van Staan-saam-plaas ondersoek nadat die oorledene met ’n mes of skerp voorwerp in die rug gesteek is. Hy is in die plaaslike hospitaal dood.


