Die polisie in die Weskus-distrik het die afgelope feestyd behoorlik hul hande vol gehad met sowat 55 motorbestuurders wat weens dronkbestuur in hegtenis geneem is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is dronkbestuurders in baie gevalle nié soos verwag word in die aand of vroeë oggendure aangekeer nie, maar sommer helder oordag.

Op Vrydag 22 Desember om 14:40 in Kerkstraat, Doringbaai, is ’n 25-jarige vrou aangekeer. Sy sal op 3 Julie in die plaaslike landdroshof verskyn.

Op Saterdag 23 Desember om 18:10 in Moorreesburg is ’n 48-jarige man op die N7-weegbrug aangekeer vir dronkbestuur. Die man se voertuig is deursoek én hy het erken dat hy onder die invloed van alkohol was. Sy hofdatum is 25 Maart. Dieselfde dag om 18:40 het ’n 36-jarige man van Porterville oor ’n stopstraat gery waarop hy vir dronkbestuur aangekeer is. Sy hofverskyning vind ook plaas op 25 Maart.

Oukersdag, Sondag 24 Desember

Om 02:30 het ’n 31-jarige bestuurder tydens ’n roetinepadblokkade in die Vredendal-omgewing beheer oor sy voertuig verloor en in Holrivierpad tot stilstand gekom. Die man was onder die invloed van alkohol en is in hegtenis geneem. Sy eerste hofverskyning sal op 27 Junie plaasvind.

Om 08:30 is ’n 33-jarige man op die Ou Kaapseweg in Clanwilliam afgetrek en vir dronkbestuur in hegtenis geneem, en om 08:35 is ’n 49-jarige man op dieselfde pad ook vir dronkbestuur afgetrek en in hegtenis geneem. Dié bestuurder kon nie sy rybewys toon nie. Hy was ooglopend onder die invloed van alkohol. Hul hofdatum is 27 Maart.

Op die Graafwater-Clanwilliam pad is ’n 25-jarige bestuurder om 10:45 voorgekeer omdat sy windskerm nie op standaard was nie. Die polisiebeamptes het egter bevind dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het. Hy is in hegtenis geneem en verskyn op 27 Maart in die hof.

In Hopefield is ’n 30-jarige man om 10:45 op die R45 voorgekeer en ook vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Hy verskyn op 29 Maart in die landdroshof.

Op die N7 naby Citrusdal is ’n 44-jarige man om 12:20 vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Hy verskyn volgende week, 17 Januarie, in die hof.

Ook op Oukersdag is ’n 25-jarige bestuurder van ’n oorlaaide voertuig om 13:20 in Langstraat, Piketberg, afgetrek. Die man het erg na alkohol geruik en hy is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Sy hofdatum is 6 April.

’n Dronk 44-jarige man van Klawer wat eers probeer het om vir die polisie weg te jaag, is om 15:00 voorgekeer en in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Hy moet op 21 Mei in die hof verskyn.

Later dieselfde dag om 16:35 is ’n 39-jarige man, ook van Klawer, vasgetrek nadat hy roekeloos met sy bakkie bestuur het terwyl daar volwassenes en kleuters agterop was. Dié man het erken dat hy gedrink het en is weens dronkbestuur aangekla. Sy hofdatum is ook op 21 Mei.

Kersdag, 25 Desember

Op Kersdag om 21:25 is ’n 53-jarige man van Langebaanweg in hegtenis geneem in Laaiplek vir dronkbestuur én roekelose en nalatige bestuur nadat hy ’n voetganger raakgery het. Hy moet op 10 Julie in die landdroshof verskyn.

Gesinsdag, Dinsdag 26 Desember

Die polisie het op Dinsdag 26 Desember om 17:35 ’n 53-jarige man by die kruising van die R45 na Hopefield en die indraai na die Suidelike verbyweg op Vredenburg vir dronkbestuur aangekeer omdat hy gesukkel het om behoorlik in die pad te draai. Sy eerste hofverskyning is op 18 Januarie.

In Vanrhynsdorp is ’n 25-jarige man se voertuig om 21:10 op die R27 afgetrek. Die man het na drank geruik en ’n asemtoets vir bloedalkoholvlakke het die vermoede bevestig dat hy dronk bestuur het.

Hy verskyn op 3 April in die landdroshof.

’n Inhegtenisneming is om 18:35 in Kerkstraat, Laaiplek, uitgevoer nadat ’n 25-jarige man ’n stopteken verontagsaam en deur die strate gejaag het. Sy hofdatum is 26 Junie.

In Saldanha is ’n 21-jarige man om 01:20 op die R45 naby Hopefield in hegtenis geneem weens dronkbestuur. Sy hofdatum is 29 Maart.

Verder moet ’n 22-jarige man van Darling op 2 April in die Darling-landdroshof verskyn nadat hy om 23:50 op die Darling-Malmesburypad vir dronkbestuur aangekeer is.

In Lutzville is twee mans dieselfde dag in twee afsonderlike sake aangekeer vir dronkbestuur. Die twee beskuldigdes, 35 en 60 jaar oud, moet albei op 14 Mei in die landdroshof verskyn.

Nog ’n klag van dronkbestuur is teen ’n 35-jarige man van Saldanha aanhangig gemaak wat voorgekeer is weens dronkbestuur. Hy sal op 27 Mei in die hof verskyn.

In Vredendal is ’n 47-jarige man se voertuig aanvanklik voorgekeer omdat een van die agterste bande te glad was. Die beskuldigde was saam met ses ander passasiers in ’n Toyota Conquest. Hy is in hegtenis geneem weens dronkbestuur en ook omdat die voertuig oorlaai was. Sy eerste hofdatum is 26 Junie. Van 29 Desember tot 1 Januarie om middernag is ’n verdere 34 mense aangekeer weens dronkry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article