Paramedici op die toneel van ’n botsing wat Saterdagaand op die Weskus-pad by die Hopefield-oorgang plaasgevind het. Foto: Globalforce EMS


Niemand is noodlottig beseer in drie groot ongelukke wat op die Weskus-pad (R27) plaasgevind het nie.

Naweekgangers wat Vrydagmiddag 18 Maart op die R27 (Weskus-pad) na die Weskus onderweg was, was nie ingenome toe hulle ure lank in ’n verkeersknoop weens ’n groot botsing op dié pad vasgesit het nie.

Volgens die provinsiale verkeersdepartement se streekkantoor in Vredenburg was twee vragmotors en ’n bakkie in dié botsing betrokke wat die pad versper het.

Die streekkantoor het Dinsdag Weslander meegedeel die insittendes is genadiglik net lig beseer.

Die pad was egter ure lank gesluit terwyl die ongelukstoneel opgeruim en die pad herstel is. Sommige motoriste het van die ongeluk op die radio en sosiale media gehoor en kon betyds besluit om eerder via Malmesbury na hul bestemming aan die Weskus te ry.

Talle ander het egter ure lank op die R27 vasgesit en omdat die botsing naby die R27-ingang van die Weskus Nasionale Park gebeur het, het sommige besluit om die toegangsfooi te betaal en deur die park teen ’n spoedbeperking van 50 km/h na Langebaan te ry. Die park moes egter die ingang sluit nadat die maksimum hoeveel­heid voertuie toelaatbaar in die park bereik is.

Saterdagaand het ’n minibus en ’n motor by die Hopefield-oorgang op die R27 gebots.

Volgens die nooddiens Globalforce EMS, wat ook op die toneel was, is drie pasiënte met beserings op die toneel behandel en per ambulans na die hospitaal geneem.

Ook het die provinsiale verkeersdepartement se streekkantoor Weslander meegedeel dat ’n tweede vragmotor Dinsdag 22 Maart op die R27 naby die Engen 1 Stop omgeslaan en die verkeer belemmer het.

’n Stop-ry-stelsel is geïmplementeer terwyl die botsingstoneel opgeruim is. Niemand is ernstig in die ongeluk beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article