Die kranige rugbyspeler Kurshtion Martin.Foto:


Sy passie vir rugby is onbeskryflik.

Hoewel Kurshtion Martin (15) ’n terugslag weens ’n skouerbesering gehad het, laat dié jong man hom nie onderkry nie.

Dié Hopefield-boorling, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Paarl Gimnasium en skrumskakel vir die o.16A-rugbyspan, se liefde vir rugby kom al van kleins af. As kind het hy saam met sy oupa baie tyd op die veld deurgebring en het ook sy pa, wat nou nog vir Hopefield-rugbyklub uitdraf, op die rugbyveld in aksie gesien.

Kurshtion het in Julie verlede jaar by Paarl Gimnasium aangesluit, juis omdat dit ’n goeie sportskool is en hy hier die geleentheid het om in rugby te vorder.

Kurshtion vertel dat hy die gevoel geniet om die veld met sy “broers” te deel en die skare te sien wat hulle ondersteun.

“Rugby leer my om vir iets groter as myself te speel; om nie bang te wees vir uitdagings nie; om altyd aan te hou probeer, selfs al is dinge moeilik. Dit herinner my om nooit in die lewe moed op te gee nie.”

So jonk soos hy is, vertel Kurshtion van sy hoogtepunte sluit in die opname in die o.13-Boland-Cravenweekspan asook die Boland-sewesspan – albei in een jaar. Hy het ook die Sharks-rhino-week-span gehaal, waar hulle die toernooi verlede jaar gewen het.

Kurshtion deel hy het party aande ná sy skouerbesering gehuil en wou opgee. Hy het in daardie oomblikke met God gepraat en sy krag van Hom ontvang.

“Ek het besef dit sou tyd en geduld neem om te herstel, dus het ek gefokus op wat die toekoms vir my inhou. My ondersteuningstelsel – my familie en vriende – het ook ’n groot rol gespeel om my positief te hou.”

Die herstelproses sal vier tot ses maande neem en in opvolgsessies sal besluit word of hy wel hierdie seisoen sal kan speel.

’n Backabuddy-veldtog is van stapel gestuur om sy ouers met hul seun se mediese koste by te staan.

Kurshtion moedig jong spelers soos hy aan om altyd hard te werk.

“Baie van ons wil groot hoogtes bereik, maar nie die werk insit nie. Jy sal baie struikelblokke op jou pad hê, maar gebruik dit as geleenthede om sterker te word – nie net op die veld nie, maar ook as mens. Glo in jouself en in die pad wat vir jou uitgelê is, want alles gebeur op die regte tyd volgens die plan van die Man daarbo.”

Kurshtion sien homself as ’n toegewyde speler en ’n rolmodel wat ander wil inspireer deur harde werk, toewyding, dissipline en nederigheid.

Sy ouers, Girshton en Chantelle Gurah, sê as ouers is hulle trots op die spronge wat hul seun geneem het.

“Dit is werklik ’n plesier om hom te sien doen wat sy hart begeer. Alles wat hy tot dusver bereik het en die harde werk wat hy insit, kom nie oornag nie. Ons bars van die trots.”

Kurshtion meen rugby kan baie deure oopmaak en sien uit na die geleenthede wat voorlê.. Besoek https://www.backabuddy .co.za/campaign/pls-help-our-rugby-player-with-surgery-funds om ’n bydrae tot Kurshtion se mediese onkoste te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article