Daar was geen keer aan die derde Weskus-talentkompetisie wat op Saterdag 7 Oktober by Langebaan Primêre skool plaasgevind het nie.

Volgens Natasha Jantjies, stigter van die kompetisie en van Inspiration, ’n organisasie sonder winsbejag, was daar groot talent hierdie jaar en sy kon sien hoe die kompetisie oor die jare gegroei het.

Met meer mense wat dit bygewoon het, was die kompetisie ’n groot sukses. Jantjies skat meer as 800 mense het die dag bygewoon.

Die Weskus-talentkompetisie is begin om jonk en oud die geleentheid te gee om hul talente met die publiek te deel. Hierdie jaar was daar ook ’n nuwe afdeling genaamd die Winter/Spring Fashion Show, onder die vaardige hand van die koördineerder Alexis Raymond, waar verskeie ontwerpers met die hulp van Inspiration se modelle hul kreatiewe ontwerpe kon blootstel.

In die junior afdeling het dansers koning gekraai. Young Diversity- dansgroep het met die eerste plek weggedans, The Brilliance-dansgroep met die tweede plek en Hand Reaching Out- dansgroep die derde plek.

In die senior afdeling het die rymkletser Murphy die eerste plek behaal, die Future Kings-dansgroep was tweede en Rozette Makka was in die derde plek vir sing.

“Elke jaar word dit net meer suksesvol. Toe ek ná die tyd na die video’s en foto’s kyk, het ek emosioneel geword. Sonder God in die eerste plek sou dit nooit moontlik wees nie. Die Here gebruik my om die stuurwiel te wees,” sê Jantjies.

Sy voeg by die groot doel van die Weskus-talentkompetisie is om die gemeenskap saam te bring en talente bloot te stel.

Jantjies het almal vir hul ondersteuning en ook alle borge en vrywilligers bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article