Terug vir die derde keer sedert 2021 – die Weskus-talentkompetisie vind hierdie jaar weer plaas op Saterdag 7 Oktober.
Die kompetisie is gestig deur die Langebaan-inwoner Natasha Jantjies, ook die stigter van Inspiration, ’n organisasie sonder winsbejag.
Vir Jantjies is dit ’n riem onder die hart om hierdie kompetisie aan te bied. Sy sê die missie van Inspiration is om kinders lewenslesse te leer en hulle te herinner wat hul waarde in die lewe is.
Sy glo dit word deur geleenthede soos die talentkompetisie gedoen.
Die talentkompetisie is ’n geleentheid vir oud en jonk om hul gawes te deel, of dit nou sing, dans of gedigte voorlees is – alle talente is welkom.
Die kompetisie bestaan uit twee afdelings – 17 jaar en jonger en 18 jaar en ouer, met heerlike pryse op die spel.
Vanjaar se kompetisie bied daarby ook ’n nuwe afdeling aan – die Winter/Spring Fashion Show, waarin verskeie ontwerpers hul ontwerpe met die hulp van Inspiration se modelle ten toon sal stel. Dié modeparade word aangebied onder die vaardige hand van die koördineerder Alexis Raymond. Mode-liefhebbers kan uitsien na die ontwerpe van Teri-Leigh Benjamin, Delicia Timmie en Nonzukiso Mgqeba.
Die seremoniemeester is die bekende Ouma Sarie, met Petra Mei en Boeta Jules wat hulp sal verleen.
Musiekkunstenaars soos Kaytlin Filander, Michael Palmer, Meggan Moore, Danielle Beejay en ander sal ook optree. Die geleentheid vind plaas by die Langebaan Primêre Skool en kaartjies kos R80 vir volwassenes, R60 vir hoërskoolleerders en R40 vir laerskoolleerders.



