Die einde van die T20-krieketseisoen is nog nie verby nie nadat die eindstryd tussen die Krewe en Worcester uitgestel moes word.
Die Vredenburg/Saldanha-krieketklub se tweede span het die afgelope naweek kragte teen Worcester II gemeet. Die plaaslike kaptein Anthony Jooste het die loot gewen en besluit om in die baie winderige toestande op Bolandpark in Paarl eerste te boul.
United se openingskolwer, N. Amsterdam (44; 38 balle; 4×4) was goed op dreef en met die bystand van M. Marinus (27; 38 balle) het hulle United op die voorvoet gesit.
Op 82/2 in die 12 boulbeurte het dit gelyk of United ’ngroot telling sou haal. Divan Arendse (1/25) het in die middelperiode goed geboul, wat Alfonso Mitchell (3/27) saam met Wallace Williams (2/17) in staat gestel het om die paaltjies in te ryg.
United kon uiteindelik slegs 124/6 in sy toegelate 20 boulbeurte aanteken.
Leighton Goeida, ’n 17-jarige draaibouler, het ’n uitmuntende beurt gehad met 0/15 in vier boulbeurte, wat die goeie begin van United en die lopievloei beperk het.
Die openingskolwer Heinrich Pluim (54; 44 balle; 4×5 en 6×2) en die aanvangskolwer Ashwin (IPL) Pietersen, oftewel TaBobs, (37; 30 balle; 4×4) het die Krewe in ’n goeie posisie geplaas met ’n 70-lopie-vennootskap vir die eerste paaltjie.
Veral Pluim het met sy kap-houe beïndruk en sy trek-houe was net ’n plesier om te aanskou. TaBobs het die toeskouers met sy dryfhoue op hul voete gehad.
Die Krewe het hul T20-titel suksesvol verdedig en met sewe paaltjies gewen.
Die Premierliga-eindstryd tussen Krewe I en Worcester United I het ongelukkig uitgereën.
Die Krewe se kaptein, Tommy Kannemeyer, het die loot gewen en besluit om te kolf. Die Krewe was 63/1 ná 11 boulbeurte toe die wedstryd weens die weer gestaak is.
United moes ingevolge die Duckworth Lewis-Stern-metode 91 in 11 beurte aanteken. Die reën het egter die laaste sê gehad en geen verdere spel was moontlik nie. Die wedstryd is toe uitgestel en word nou herskeduleer om die Boland- Premierliga A se T20-kampioene te bepaal.
Louis Hartzenberg III, die voorsitter van die Krewe, sê dit was die regte besluit om nie die wenner deur die opskiet van ’n muntstuk te bepaal nie.





