Pragtige blomme soos dié in dorpsgebiede het die Bergrivier-munisipaliteit genoop om spuitwerk vir onkruidbeheer vir twee maande uit te stel.


Aangesien vanjaar se blommeseisoen laat is, het die Bergrivier-munisipaliteit (BM) besluit om sypaadjies eers later vir onkruidbeheer te bespuit.

Die BM het in ’n persverklaring wat hy verlede week aan Weslander gestuur het, gesê spuitwerk vir sypaadjies, openbare ruimtes en parke sal nou eers in November gedoen word om toe te laat dat die blomtydperk eers sy volle jaarlikse siklus voltooi.

Blommetyd begin gewoonlik teen einde Julie, maar vanjaar het die blomme eers teen einde Augustus hul gesiggies gewys, wat beteken die blomtydperk sal eers teen einde Oktober begin klaarmaak.

David Carolissen, die BM se bestuurder van gemeenskapdienste, het in die verklaring gesê die plaaslike ekostelsel is van groot waarde en moet bewaar word.

“Die besluit wat ons geneem het, sal help dat ons belangrike plantspesies bewaar terwyl ons die blomme in vrede laat om volwassenheid te bereik en saad te skiet. Dis vir ons baie bevredigend dat ons inwoners die pragtige blommeskouspel geniet, maar hierdie plekke dien ook as belangrike bewaringsgebiede,” het Carolissen verduidelik.

Die BM is deeglik bewus van die feit dat die uitstel van hierdie noodsaaklike spuitwerk sekere gebiede moontlik onnet sal laat.

Carolissen het belowe die munisipaliteit sal die onderskeie gebiede monitor en so netjies as moontlik probeer hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article