André Möller trots by sy grootste vangs nog – ’n reusagtige kabeljou.


’n Doodgewone gesinsdag het vir die Vredenburg-inwoner André Möller op ’n hoë noot geëindig.

Möller het Saterdag (9 November) ’n bielie van ’n kabeljou uit die water by Knorvarkie in Velddrif getrek.

’n Groot vangs is mos vir enige hengelaar nooit te versmaai nie.

Möller het aan Weslander vertel dat hy so dikwels as moontlik varswater- of soutwatervis vang en dat hy ’n liefde vir hengel het, juis omdat dit iets is waarmee hy grootgeword het.

Met die gebruik van sardyn-aas was die groot vangs glad nie iets wat hy op daardie dag verwag het nie.

Möller sê dit het hom om en by 10 tot 15 minute geneem om die groot vis in te katrol. Met so ’n groot vangs kon hul skaal nie die gewig bepaal nie en het selfs ’n error-boodskap getoon.

“Ek kon my oë nie glo toe ek die kabeljou al in die water sien en hoe groot hy was nie. Ek het toe geweet dit gaan groter wees as my vorige beste, wat omtrent so 8 kg was. Hy was 135 cm lank en volgens Google moet hy vir sy lengte 24,3 kg weeg,” vertel Möller.

Om die voortbestaan van die vis te verseker, is die bielie van ’n kabeljou weer veilig terug in die water gesit.

“Ons moet sorg dat ons nageslagte ook nog sulke grotes kan vang,” sê Möller.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article