“Soms sit die Here jou in ’n posisie net om seker te maak jy het nie van Hom vergeet nie,” vertel Vigeniëa Payne.
Die plaaslike sanger is jare terug gediagnoseer met fase-2 borskanker en is vroeër vanjaar in Januarie kankervry verklaar. Maar alles het egter verander toe dokters onlangs vir Payne meedeel dat die kanker terug is en sy met fase-4 borskanker gediagnoseer is. Payne sê sy ken haar liggaam en het ’n voorgevoel gehad dat iets nie pluis is nie.
Ná besoeke aan dokters moes sy weer die groot ‘K’-woord hoor, iets wat nie maklik op die oor is nie. Volgens dokters het ’n kankersel ontsnap by haar eerste borsoperasie omtrent vyf jaar gelede. Die sel het versprei en homself gevestig in haar heup en met tyd gegroei.
Nie ‘n doodsvonnis
Tans ondergaan Payne bestraling om die kanker te beveg en kry ook ’n inspuiting. Sy vertel dat die behandeling ’n tol op haar liggaam neem tot die punt waar sy nie kan eet nie. Die behandeling het haar ook gekeer om op te tree.
“Wanneer mens fase-4 kanker hoor, vra jy jouself af of jy die dood in die oë staar. Jy kry al klaar iemand in plek om die kos en koekies te maak ná die begrafnis, die gesange en wie gaan die draers wees,” vertel Payne met ’n lag. Maar met die dokter se hulp en geduld het hy al haar vrae beantwoord en alles mooi verduidelik.
Tydens haar tyd in die hospitaal het Payne baie ander pasiënte ontmoet wat ook kanker het, sommige erger as ander. “’n Mens leer baie en jou gemoedstoestand is beter wanneer jy met mense praat wat dieselfde deurmaak as jy. Jy hoor elkeen se storie en deel met mekaar waardeur almal gaan.”
Payne sê haar siekte is ’n “druppel in die emmer” teenoor dit waardeur ander gaan.
Met alles waardeur Payne gaan, behou sy ’n positiewe gesindheid en sien dinge anders. Sy het op Sondag 26 Mei haar eerste optrede gehou en sê alles het goed afgeloop. Sy moedig ander kankerlyers aan om met mekaar te praat. Sy moedig ook ander aan wat voel dat daar iets fout is met hul liggaam om dadelik dokter toe te gaan nie. “Moenie wag tot op die laaste oomblik nie.”





