Jan Swartz (63) word deur polisiebeamptes begelei.


’n Oud-verkeershoof en later direkteur van beskermingsdienste by die Matzikama-munisipaliteit in Vredendal is verlede week in die Karoo in verband met bedrog in hegtenis geneem.

Jan Swartz (63) was munisipale bestuurder van die Hantam-munisipaliteit voordat hy sy huidige pos as munisipale bestuurder van die Nama Khoi-munisipaliteit betree het.

Hy is sowat 27 jaar al in diens van plaaslike regerings.

Swartz het vlugtig in die Calvinia-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur van 2003. Hy is borgtog van R5 000 toegestaan.

Die saak is uitgestel tot Vrydag 15 Mei wanneer dit die eerste keer in die Bellville-handelshof sal voorkom.

Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) se ernstige-kommersiële- misdaadondersoekspan het Swartz verlede week in Springbok in hegtenis geneem.

Volgens AO Nomthandazo Mnisi, ’n woordvoerder van die Valke, word beweer dat Swartz tussen 2019 en 2020, terwyl hy die munisipale bestuurder by die Hantam-munisipaliteit was, ’n maandelikse subsidie vir twee amptelike selfone ontvang het, terwyl die munisipaliteit ook betaal het vir die rekening aan die diensverskaffer.

Dit was teenstrydig met die pakket wat hy by die munisipaliteit ontvang het. As gevolg hiervan het die munisipaliteit werklike skade van R33 470,39 gely.

In ’n ander onverwante aangeleentheid het die beskuldigde na bewering opdrag gegee dat twee vragte gruis, wat aan die munisipaliteit behoort, by sy woning afgelewer word vir persoonlike gebruik. Die munisipaliteit het geldelik skade van meer as R1 000 met dié handeling gely.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article