Besoekers het behoorlik geskink en geproe by die Skink Swartland-geselligheid Saterdag 7 Mei.
Die geleentheid het by die Laaiplek-hotel in Velddrif plaasgevind waar heerlike seekos en die beste wyne van die Swartland-wynstreek voorgesit is. Die eksklusiewe geleentheid het omtrent 280 gaste vir die dag betrek.
Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van Swartland Wine and Olive Route, sê mense het die groot verskeidenheid van wyne, spesifiek ook die wyne wat nie algemeen in winkels beskikbaar is nie en meestal uitgevoer word, geniet.
“Die heerlike kos wat die Laaiplek-hotel voorberei het, het ook baie komplimente gekry,” vertel sy.
Janse van Rensburg voeg by dat hulle beslis oorweeg om so ’n geselligheid weer te hou veral ná die sukses van die eerste een.
“Die Weskus-mense is binne reikafstand van die Swartland en statistieke wys dat veral in terme van wyntoerisme die Weskus- en Kaapstad-inwoners die Swartland gereeld besoek. Die Swartland Wyn van Oorsprong-gebied wat deur die Wyn en Spiritusraad bepaal word, sluit ook ’n groot gedeelte van die Weskus in.”
Janse van Rensburg wil graag vir Markus Bester en die Eigelaar-familie bedank vir hul groot bydrae tot die sukses van die geleentheid.
“Hulle het ons Swartlanders werklik soos familie laat voel en nie net Laaiplek-hotel vir die geleentheid beskikbaar gestel nie, maar ook ongelooflik baie moeite gedoen.”





