Een van die Swartland se lekkerste wynland-ervarings keer Saterdag 28 Oktober terug, wanneer die tweede Swartland Sosiaal-wynfees gehou word.

Hierdie fees van heilsame plattelandse gasvryheid en plesier is ’n moet-doen- bon vivant-affêre en word by die bekende organiese wynpionier Org de Rac, net 90 minute van Kaapstad af, gehou.

“Swartland Sosiaal is terug met ’n groot trompetgeskal,” vertel Carien Hugo-Waring, die stigter en organiseerder.

“Die geleentheid het verlede jaar begin en is wonderlik ontvang. Ons is baie bly om terug te wees – hierdie keer by een van ons streek se bekendste wynkelders.

“En voordat enigiemand vra – die geleentheid sal lankal verby wees as die finale afskop van vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi om 21:00 gebeur. Om die waarheid te sê, Swartland Sosiaal sal die perfekte manier wees om op te warm en jou wynvoorraad aan te vul!”

Al die aktiwiteite sal by Org de Rac se groot herehuis, grasperke en stoep plaasvind. Opwip-kosstalletjies, pieknieks en musiekuitvoerings sal beskikbaar wees en natuurlik die geleentheid om die produkte van die Swartland se bekendste wynkelders te proe – en nog bykomende verrassings.

Kaartjies is weer beperk tot 400 en is by Quicket te koop. Slegs volwassenes word toegelaat en kaartjies verkoop teen R350 per persoon. Dit sluit in ’n safari-styl-wynproe van Swartland-wyne, ’n R50-koopbewys vir jou eerste wyn-aankope van die dag en musiek deur die orkes van Newton & Co.

Die aangewese (nugter) bestuurders word ook nie afgeskeep nie en Quicket het ook spesiale Designated Driver-kaartjies teen R200 per persoon. Dit sluit ’n R50-kos-koopbewys en bottel water in. Hierdie kaartjiehouers sal ’n uitkenbare armband dra, wat aandui dat alkohol nie aan hulle bedien moet word nie.

Buiten Org de Rac neem ander wynkelders, waaronder Riebeek Wine Co, Pulpit Rock Wyne, Huis van Chevallerie, Leeuwenkuil Familiewingerde, Arbeidsgenot Wyne, Winkelshoek Wynkelder en Wildehurst Wyne Koringberg asook Brookdale Landgoed in die Paarl en Deetlefs Wynlandgoed naby Worcester ook deel.

Vir die kosfoendies sal tafels en piekniekstyl-sitplekke uitgelê word en klaargemaakte etes asook piekniekmandjie-items, met komberse, sal deur opwip-stalletjies wat deur Die Moorrees en die Hopefield-mark bedryf word, verkoop word.

Toere deur die Org de Rac-kelder sal deur die bekende wynmaker Lizelle Gerber aangebied word. Deelnemers sal die geleentheid kry om eerstehands te hoor van die wynkelder se volhoubare boerdery- en wynmaakmetodes en ook aan ’n wynproe deelneem.Volg @SwartlandSosiaal op Facebook en Instagram of epos info@moorrees.co.za vir meer inligting oor die Swartland Sosiaal Wynfees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article