Lede van die gemeenskap sing en dans buite die Klawer-hof om hulself teen geweld teen vroue op hul dorp uit te spreek.


Nóg ’n vrou van die Weskus is Saterdag, glo deur haar lewensmaat, in Klawer vermoor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, die polisie se woordvoerder vir die Weskus-streek is Piet Cupido (39) Saterdag 13 Augustus op die toneel van die moord in Hereenlogenmentstraat, Klawer weens die moord op sy swanger vriendin (24) in hegtenis geneem.

Die slagoffer was ten tyde van haar dood swanger met Cupido se tweede kind.

Helfrich sê die oorledene is met ’n mes in haar gesig en skouer gesteek. Sy het op die toneel aan haar wonde beswyk.

Cupido het Maandag 15 Augustus in die Klawer-hof verskyn.

Lede van die gemeenskap het by die hof opgedaag om die slagoffer se familie te ondersteun en hulself teen die reuseprobleem van geweld teen vroue uit te spreek.

Die saak is tot 13 September uitgestel en Cupido bly in aanhouding.

Volgens Helfrich is Cupido al ’n paar keer skuldig bevind vir onder meer die besit van dwelms en aanranding met die doel om ernstig te beseer. In Julie vanjaar is hy vir veediefstal aangekeer.

Sedert Januarie vanjaar is talle vroue in die Weskus vermoor. In al hierdie gevalle is die oorledenes se lewensmaats of voormalige lewensmaats vir hul moorde aangekla.

Net enkele van die gevalle waaroor Weslander berig het sluit in Hannie Mpayipheli van Noordhoek in Velddrif wat op 1 Januarie gesterf het weens komplikasies ná sy in Desember glo deur haar lewensmaat en pa van haar kinders gemartel en aangerand is; Natasha Booise wat op 2 Januarie in Piketberg op straat glo deur haar polisieman-kêrel doodgeskiet is en Noheadman Fulela wat dood in ’n woonwa ook in Piketberg aangetref is nadat sy en haar vriend die vorige aand gestry het.

Verlede week het Weslander berig oor Millen Adams van Vredenburg wie se lyk dae ná haar verdwyning in ’n vlak graf by haar voormalige lewensmaat se huis ontdek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article