Paternoster het sy kanse vir ’n oorwinning Saterdag op die Grafkelder met swak dissipline gekelder en 18-21 teen Young Hearts vasgeval.
Die besoekers, wat rustyd nog 15-12 voor was, se swak dissipline het met ongeveer 10 minute se speeltyd oor die oorhand gekry en die skeidsregter het die eindfluitjie geblaas met die span sterk op die aanval.
Die besoekers wat binne die tuisspan se kwartgebied geboer het, is egter gestraf nadat hulle die tuisspan verhoed het om die bal in ’n vaste skrum te voer. Die span het egter die skeidsregter se besluit aggressief bevraagteken en die wedstryd is as gevolg daarvan beëindig. Paternoster, wat die wedstryd met ’n bonuspunt moes wen om sy tweede plek op die punteleer terug te vat, het Mamre egter toegelaat om sy plek te behou.
Pato het van die afskop af druk op die tuisspan geplaas en kort ná mekaar twee strafskoppe binne trefafstand afgedwing.
Met albei skoppe mis kon die span van die Grafkelder asemhaal. Paternoster, wat ’n oorvloed gebiedsvoordeel en balbesit geniet het, het eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie.
Ruben Abels se troepe het egter die nat toestande beter beheer en koelkop gebly, en die tuisspan se agterlyn was nooit bang om die bal wyd te versprei nie, en hul eerste drie het van ’n beweging op hul eie doellyn gekom.
Paternoster, wat verskeie kere meters van die doellyn was, kon dit egter weens rotsvaste verdediging nie in punte omgeskep kry nie.
Die tweede helfte het weer in die besoekers se guns met ’n strafskop begin. Young Hearts het egter koelkop gebly en die besoekers se aanslae getrotseer. Met twee verdoelde drieë deur die tuisspan het Young Hearts weer die voortou geneem. Paternoster het egter steeds die aanvalswerk gedoen voordat die onsmaaklike voorval die wedstryd beëindig het. . Die verdedigende kampioen, Saldanha, het ná sy nederlaag verlede week teen Mamre teen Hopefield wraak geneem.
Vredenburg se Burg Boys het ook weer die hand opgesteek toe dié span Langebaan geklop het.Volledige uitslae: Saldanha 36-12 Hopefield; St. Helenabaai 41-14 Koringberg; Vredenburg 42-26 Langebaan; Young Hearts 21-18 Paternoster en Piketberg 28-34 Velddrif.
Swartland: Abbotsdale 13-6 Never Despairs; Moorreesburg 33-5 Riebeeck United; Wesbank 62-12 Villagers Wittewater; Darling 14-12 Porterville en Saron 23-22 Goodhopes.Die naweek se program: Koringberg t. Saldanha, Langebaan t. St. Helena, Velddrif t. Vredenburg, Paternoster t. Piketberg en Hopefield t. Mamre.
Young Hearts geniet ’n ruskans.





