Die dreinstelsel op Smith se erf is ’n kopseer vir hom én ander.


Swak!

Dis hoe Denvir Smith, ’n inwoner, die diens wat hy van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) ontvang, beskryf.

Smith het met Weslander gedeel dat hy sedert Desember verlede jaar met ’n rioolprobleem op sy erf sukkel. Soos Smith verduidelik, loop die drein oor en veroorsaak ’n groot probleem –nie net vir sy huishouding nie, maar ook vir die wat rondom hom woon.

Smith meen die oorloopdrein laat ’n sterk stank in die lug, wat ondraaglik is. As ’n lojale inwoner wat sy munisipale diensgeld betaal, meen Smith dié soort diens is onaanvaarbaar. Hy het al verskeie kere na die munisipaliteit uitgereik om ’n oplossing te vind, sonder enige sukses. “Ek het al ’n paar keer gegrawe om na die pype te kyk, maar gesien ek kan niks daaraan doen nie. Elke keer as die drein oorloop, dan bel ek, die munisipaliteit kom kyk net en dan ry hulle weg.”

Smith sê hy het al persoonlik na die kantoor van die SBM gegaan met die voorstel om afbetaling te reël sodat die probleem dadelik opgelos kan word, juis omdat hy nie die geld het om ’n loodgieter te betaal of die nodige masjinerie om die werk self te voltooi nie. Smith meen hy het al alles probeer om die situasie self onder beheer te bring, maar die drein sal eenvoudig net weer oorloop.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder vir die SBM, het die munisipaliteit se water-en- rioolspan in Langebaan verskeie inspeksies gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen probleme of obstruksies aan die munisipaliteit se kant van die rioolaansluiting was nie. “Ons het opgemerk dat klippe aan die eienaar se kant van die rioolaansluiting die oorsaak van die verstopping was. Die munisipaliteit het meneer Smith van hierdie bevinding ingelig en hom aangeraai om die dienste van ’n loodgieter te kry.”

Lawrence voeg by daar is ontdek dat die stelsel geen oogkappe het nie. “Hoewel die eienaar dit geïnstalleer het na aanleiding van die munisipaliteit se versoek, het hy versuim om die klippe vooraf te verwyder, wat bygedra het tot die voortdurende kwessie. Verder is ’n struktuur op die eienaar se eiendom aangeteken, wat tans deur huurders bewoon word. Die rioolkwessies het eers ná die bou van hierdie ongemagtigde struktuur ontstaan.”

Smith sê hy is bereid om saam met SBM te werk sodat die drein reggemaak kan word eerder as dat die straat só lyk en ander mense ook raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article