Paasnaweek is histories ’n bloedige tyd op paaie, maar met ingrypings deur wetstoepassers bestaan die hoop dat padgebruikers vanjaar veilig sal wees.
Volgens die Wes-Kaapse regering word hoër verkeersvolumes by gewilde vakansie-trekpleisters verwag. Veral die Weskus en die omliggende gebied is gewild dié tyd van die jaar.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit het by navraag gesê hulle maak gereed vir meer verkeer op die R45 en die R27-Weskuspad.
“Die munisipaliteit se openbare veiligheidsdepartement sal op ’n hoë gereedheidsgrondslag wees en verseker om sigbaar te wees en gepas op te tree teen oortreders,” het Ethne Lawrence, munisipale woordvoerder, verduidelik.
Sy voeg by vele besoekers sal langafstand-padgebruikers wees wat na verwagting van beide openbare en private vervoer gebruik maak.
Padgebruikers kan hulle gereed maak vir ’n geïntegreerde optrede teen roekelose en onverskillige bestuurders.
By pad-kontrolepunte sal voertuie, lisensies, rybewyse, die dra van veiligheidsgordels en die algemene toestand van voertuie nagegaan word, waarsku Lawrence.
Besope bestuurders sal ook vasgevat word. Volgens Ricardo Mackenzie, provinsiale minister van mobiliteit, het dit te algemeen geword dat inwoners aanvaar daar sal padsterftes tydens piektye wees.
“Verlede jaar het gedurende die April-feestyd altesaam 36 mense op ons (provinsiale) paaie gesterf. My wens is dat alle gesinne hierdie jaar veilig by hul vakansiebestemmings sal aankom en ook terugkeer van hul vakansiebestemmings,” het Mackenzie Maandag gesê.
In ’n onlangse onderhoud met die provinsiale minister het hy aan Weslander gesê die grootste faktor in ongelukke is padgebruikers se gedrag.
“Ons kan die reëls opstel en die voorskrifte in plek hê, maar dit is elke individu se verantwoordelikheid om veilig op te tree. Drank speel natuurlik ’n groot rol in die ignoreer van verkeersreëls en dit moenie genormaliseer word nie. Ons moenie aanvaar dat daar jaarliks honderde mense op paaie sterf nie.
“Ja, ons is bly wanneer daar minder sterftes is en ons moet aanhou met die programme wat help, maar as ’n samelewing het ons dit genormaliseer dat mense op paaie, weens ’n voorkombare aksie, sal sterf en dit moenie die geval wees nie,” het Mackenzie vroeër aan Weslander gesê.
Dit is ook nie net kwaaddoeners op die pad wat sal gehoor moet gee nie. Die Saldanhabaai-munisipaliteit se wetstoepassings- tegniese reaksie-eenheid is in Januarie van stapel gestuur en kyk spesifiek daarna om infrastruktuur te beskerm.
– Vervolg op bl. 2



