Drie jaar gelede het ’n Somaliër ’n groepie mans gehuur om ’n Pakistanse winkeleienaar op Doringbaai, tussen Lambertsbaai en Lutzville, te vermoor en sy huiswinkel af te brand.
Vir dié grudaad is Elzaan Blankenberg (31), Charl Cloete (28) en Benjamin Steenkamp (33) onlangs lewenslange tronkstraf opgelê. Benewens die aanklag van moord met voorbedagte rade is hulle ook tien jaar vir brandstigting gevonnis.
Naseer Ahmed (44) het die nag van 18 Oktober 2020 in sy huiswinkel in Kreefstraat doodgebrand.
Sers. Cornelus Beukes van die Doringbaai-speurtak, wat na die toneel ontbied is, het by nadere ondersoek besef die gebou is aan die brand gesteek, waarop hy die saak na moord en brandstigting verander het.
Vier verdagtes is binne die bestek van 24 uur in hegtenis geneem, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.
Blankenberg, Cloete en Steenkamp is Vrydag 11 Augustus gevonnis, maar die saak teen die vierde beskuldigde, Yaya Zakariyyaa (35), is van die ander geskei vanweë probleme met ’n tolk.
In watter taal Zakariyyaa, ook ’n winkeleienaar, die moordkontrak met die moordenaars beklink het, is onduidelik. Sy verhoor word op 20 Oktober vanjaar voortgesit.




