Hy was ’n kisdraer by sy tannie se begrafnis, maar enkele dae daarna is hy weens haar moord in hegtenis geneem.

Cassidy Hartzenberg (18), susterskind van die vermoorde Vredenburgse landdros, Romay van Rooyen (53), sou vandag (Donderdag 6 Oktober) weer op aanklag van die moord op sy tannie in die hof verskyn. Die saak is verlede week in die Simonstad-landdroshof uitgestel.

Van Rooyen is op 10 September dood in haar huis in Muizenberg aangetref. Haar Toyota RAV4 is in die aanval gesteel en later in Mitchells Plain teruggekry.

Hartzenberg (18), wat in Mitchells Plain saam met sy ouers woon, is verlede Dinsdag (27 September) met betrekking tot sy tannie se moord in hegtenis geneem. Hy is Van Rooyen se jonger suster, Tania Hartzenberg, se seun.

Die jong man het Donderdag 29 September die eerste keer in die landdroshof in Simonstad verskyn.

Ná afloop van die hofverrigtinge het Bheki Cele, die minister van polisie, in ’n verklaring gesê dis ’n jammerte dat die verdagte ’n nabye familielid van Van Rooyen is en hy het beklemtoon dat die staat wel prima facie-bewyse het wat Hartzenberg met Van Rooyen se moord verbind.

Die saak is uitgestel tot vandag sodat Hartzenberg om regshulp aansoek kan doen.

Hoewel Van Rooyen in Kaapstad gewoon het, het sy die afgelope jaar by die landdroshof in Vredenburg gewerk.

Die vermoorde landdros se broer, Taswell van Rooyen, het voorverlede week aan Weslander gesê sy suster was lief vir die Weskus en het beplan om na die gebied te trek om nader aan haar werk te wees. Sy het die afgelope jaar gedurende die week in Langebaan tuisgegaan en bedags na haar werksplek in Vredenburg gependel.

Sy het net naweke na haar huis in Kaapstad gegaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article