Die broerskind van ’n Vredenburgse landdros, wat haar in 2022 vermoor het, is Vrydag (1 Maart) effektief 20 jaar tronkstraf opgelê weens die ernstige aard van die misdrywe wat hy gepleeg het.
Cassidy Hartzenberg (20) is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gestraf vir die moord op sy tannie, landdros Romay van Rooyen, wat geslaan en verwurg is. Hartzenberg is ’n verdere ses jaar vir motordiefstal opgelê omdat hy Van Rooyen se Toyota RAV 4 gesteel het.
Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sal die vonnisse gelyklopend uitgedien word.
Hartzenberg, destyds ’n dwelmslaaf, het doodluiters by die begrafnis saam met sy familie oor haar dood getreur en haar kis help dra, wetend dat hy haar in haar huis doodgewurg het nadat sy geweier het om vir hom geld te gee.
Adv. Phumzo Zantsi, die Wes-Kaapse adjunkdirekteur van openbare vervolging, het die hof gevra om sy diskresie te gebruik en Hartzenberg ’n langer vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar direkte gevangenisstraf op te lê weens die ernstige aard van Hartzenberg se oortredings. Die staat het aangevoer die feite wat Hartzenberg uiteengesit het – dat hy 20 jaar oud, enkellopend en werkloos is en 17 maande verhoorafwagtend in aanhouding was – nie goed genoeg is om ’n ligter vonnis te regverdig nie.
Bekommerde familielede het ’n dag ná die moord op Van Rooyen se lyk in haar blyplek in die Kaap in Marina Da Gama by Muizenberg afgekom.
Van Rooyen het in die week as ’n landdros by die Vredenburg-landdroshof gewerk en was vir baie jare ’n aanklaer by die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap.
Ntabazalila het verduidelik die oorledene het ’n hegte verhouding met haar familie gehad en hulle het dadelik paniekerig geraak toe sy nie haar foon antwoord nie. Hulle het dadelik geweet iets is fout.
In sy pleit- en vonnisooreenkoms bieg Hartzenberg dat hy en sy tante ’n goeie verhouding gehad het en dat sy hom en sy gesin emosioneel en geldelik ondersteun het. Hy beweer dat hy haar op die dag van haar moord besoek het om geld te vra om aansoek vir ’n werk te doen. Hulle het in die sitkamer gesit toe hy haar vra, maar sy het geweier, opgestaan en in haar slaapkamer ingegaan.
Hy het haar gevolg en sy het van hom af weggekyk toe hy haar slaapkamer binnekom.
Hy het sy hande om haar nek gesit en haar gewurg. Sy het weerstand gebied en om haar lewe geveg. Hy beweer hy kon nie ophou waarmee hy besig was nie en kon nie sy woede beheer nie. Toe sy op die grond val en nie meer asemhaal nie, het hy besef wat hy gedoen het. Hy het na die sitkamer gehardloop om haar selfoon te kry sodat hy hulp kon ontbied, maar hy kon nie by haar foon inkom nie. Hy het op daardie tydstip nie ’n foon gehad nie en het uit woede haar foon op die kombuisvloer gegooi en dit gebreek.
Volgens Ntabazalila beweer Hartzenberg verder dat hy paniekerig geraak het en tot in die vroeë oggendure van die volgende dag by haar lyk gebly het. Hy is toe met die RAV 4 na Westgate Mall, Mitchells Plain, en het die voertuig later langs Jakes Gerwelweg in Mitchells Plain gelos.
Hartzenberg weet hy het onwettig opgetree en wederregtelik en opsetlik betrokke was by haar dood en het geen verweer teen die aanklagte teen hom nie.
Adv. Zantsi het daarna verwys dat Van Rooyen ’n bydraende lid van die samelewing was én ’n vrou. “Daar is openbare verontwaardiging oor die hoë vlakke van ernstige en gewelddadige misdade teen vroue in Suid-Afrika. Geslagsgebaseerde geweld is ’n plaag wat ons samelewing in die gesig staar.”
Deur die swaarste vonnis moontlik op te lê, is die beskuldigde bewus gemaak van hoe ernstig die howe oortredings teen kwesbare lede van die samelewing beskou. Die hof het verwys na Hartzenberg se ingebore disrespek vir vroue en sy vermoë om fisieke geweld te gebruik.
Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en gesê dit is ’n hartseer dag dat Van Rooyen se susterskind die een is wat vir haar moord gevonnis is. “Dit was hartseer dat Van Rooyen die slagoffer geword het van ’n misdaad waarteen sy geveg het – misdade teen vroue en kinders – waar sy verseker het dat slagoffers geregtigheid kry en dat oortreders tronk toe gestuur word. Dit is ’n realiteit dat hierdie soort misdaad ons almal raak en ons moet verenig in ons pogings om dit te stop.”





