Ná 43 jaar in verpleging tree suster Marietjie Brits van Piketberg af.

Met 28 jaar diens by die Piketberg-kliniek sien Brits uit na die rustigheid en meer familietyd ná haar laaste werksdag op Donderdag 31 Oktober.

Sy het haar opleiding in algemene verpleegkunde in 1978 by die Tygerberg-hospitaal begin en in 1981 voltooi. Sy het daarna by die Alexanderbaai-hospitaal gewerk voordat sy in 1996 by die Piketberg-kliniek aangesluit het. Brits het haar sertifikaat in primêre gesondheidsorg in 1998 voltooi en haar in 2009 op 50-jarige ouderdom in Stellenbosch bevind, waar sy haar diploma in primêre gesondheidsorg verwerf het.

Volgens Brits was sy nog altyd lief daarvoor om almal en alles wat hulp nodig het, te versorg. “As kind het ek altyd die hond met ’n verband toegedraai en oupa en ouma se toonnaels geknip en hul voete gewas.”

Dis ’n liefde vir versorging wat sy aan haar pasiënte oorgedra het.

Brits het in die 28 jaar vele hoogte­pun­te ervaar, maar sy vertel haar grootste hoogtepunte was altyd met elke bevalling wat sy behartig het en wat haar laat besef het dat lewe ’n wonderwerk is. Die dankbaarheid en dankies van pasiënte is ook iets wat haar altyd sal bybly.

“Ek het alle aspekte van verpleging baie geniet. Ek kan nie van een dag onthou dat ek nie wou gaan werk nie. Net die lekkerte daarvan om iemand ná ’n operasie te sien herstel of gesond word ná ’n siekte en die interaksie met so baie mense wat jou pad kruis, het ek baie geniet.”

Brits sê sy gaan die publiek en personeel verskriklik mis. Haar hegte band met die personeel het later vir haar in familie verander. “Verpleging raak jou hele lewe. Dit is ’n beroep wat jy later nie meer van jou persoonlike lewe kan skei nie, want jy is altyd aan diens. Dit is ’n wonderlike beroep met ongelooflike moontlikhede. As jy deur jou basiese opleiding vasbyt met alle nagdiens- en naweekwerk, wag ’n wonderlike toekoms met oneindige moontlikhede.”

Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, meen Brits is die fakkeldraer van die Piketberg-kliniek. “Sy is ’n mense-mens en ’n baie reguit mens; jy kon nie jou siekte vir haar wegsteek nie. Sy het menige mens gesond gemaak en van raad voorsien en baie gaan haar mis.”

In haar aftrede sien Brits daarna uit om alles op haar eie tyd te doen asook om gehaltetyd met haar kinders en kleinkinders deur te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article