Patrick Brown se lewe is langer as ’n jaar gelede vir altyd verander toe hy drie jaar gegee is om te leef, maar nou help sy suster om sy lewe ten goede te verander.

’n Niersiekte is meer as ’n jaar gelede by Patrick (39), van Vredenburg, gediagnoseer en in ’n stadium het sy nier slegs 17% gefunksioneer. Volgens dokters was daar net twee opsies – óf dialise óf ’n nieroorplanting.

Die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging het verlede maand verduidelik sowat 2 000 Suid-Afrikaners wag vir ’n nuwe nier. Patrick was een van dié talle pasiënte, maar danksy sy suster Claudine Thiart ontvang hy Dinsdag ’n nuwe nier.

“Wanneer die Here jou iets op die hart lê, kan jy nie anders as om te antwoord nie,” sê Claudine (36).

Sy vertel haar ouer broer se toestand het verlede September aan die lig gekom en sy en haar gesin het onmiddellik besluit om te help.

Toetse het in Maart begin en ná vele doktersafsprake het die dokters bevind Claudine is ’n geskikte kandidaat vir die oorplanting. “Dit is ’n ongelooflike lang proses en toetse word herhaal en dan weer gedoen om seker te maak alles is soos dit moet wees. Die afgelope maande was ons baie emosioneel en angstig, maar namate ek meer en meer by die dokters geleer het, het ek rustiger geraak en vertrou alles sal verloop soos dit moet.” Claudine sê hoewel sy en Patrick mekaar nie so gereeld sien nie omdat sy Vredenburg vir Worcester verruil het, bly hul band as sibbe en die liefde vir mekaar onveranderd.

Vir hul ma, Georgina Brown, is dit ’n baie emosionele tyd. Sy bedank haar dogter vir haar onselfsugtige gebaar. “Ons as ouers is baie dankbaar vir wat sy doen. Sy het glad nie gehuiwer nie. Ons wens hulle al twee alle sterkte toe en ons weet Jesus sal hulle bystaan,” het Georgina vandeesweek aan Weslander gesê.

Die sibbe sal hul onderskeie operasies Dinsdag in die Christiaan Barnard-hospitaal ondergaan. Eers sal een van Claudine se niere verwyder word en vir twee ure op ys geplaas word. Dan sal Patrick na die teater gaan vir die vier uur lange operasie om die nuwe nier oor te plant. Volgens Claudine dui alles daarop dat haar broer se liggaam die nier sal aanvaar aangesien dokters bepaal het die kanse vir verwerping is 0,1%.

Hoewel Patrick vir sewe dae in die hoësorgeenheid sal moet bly, vertel Claudine sy sal teen Donderdag kan huis toe gaan. “Ek sal dinge vir ’n maand moet rustig vat en sal nie dan kan bestuur nie, maar ek sal kan voortgaan met my lewe. Die hele proses het my laat besef hoe belangrik dit is om na my gesondheid om te sien.

“Ek het drie kinders – 19, 16 en 8 jaar oud – en as ouer dink jy ook aan die belangrikheid om vir hulle daar te wees,” sê sy.

Patrick sê om ’n orgaan te skenk is ’n wonderlike lewenslange geskenk wat letterlik iemand se lewe red. “Ek sal altyd dankbaar wees vir dié geskenk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article