Amper ’n jaar ná die moord op Estelle Eksteen in haar huis in Sunbird-rylaan in Langebaan bly dit steeds ’n raaisel wie vir haar dood verantwoordelik is.
In die jongste verwikkeling het die staatsaanklaer, Dolf Nel, bevestig dat die saak teen die 51-jarige Anthony Jacobs, wat verlede jaar weens haar dood in hegtenis geneem is, in die Hopefield-streekshof teruggetrek is.
Nel het by navraag verduidelik dat geen DNS-bewyse gevind kon word wat Jacobs aan die toneel verbind nie. Die ondersoek na haar moord duur dus voort.
Eksteen se lyk is Sondag 10 Maart in haar huis in Sunbird-rylaan gevind. Die vermoede is dat sy reeds Vrydag 8 Maart vermoor is. Hoewel sy verskeie messteekwonde aan haar lyf gehad het, is sy glo ook verwurg.
Weslander het in Maart verlede jaar berig dat Jacobs, van Saldanha, op 14 Maart – ’n paar dae ná Eksteen se moord – in hegtenis geneem is nadat besittings wat aan Eksteen behoort het, by hom gevind is.
Hy het sedertdien telkemale in die hof verskyn met die saak wat elke keer uitgestel is. Jacobs is nou vrygelaat nadat die saak teen hom teruggetrek is.
Nel het ook bevestig dat Jacobs nie vervolg is vir die besit van Eksteen se goedere nie omdat dit te lank ná die moord by hom gevind is. “Sy verduideliking van hoe hy dit bekom het, was redelik moontlik waar.”
Nel voeg by dat die saak teruggetrek is ná evaluering deur die streekhof. “Dit kan enige tyd weer op die hofrol kom. Sodra bewyse verkry word wat iemand aan die moord verbind, kan hy of sy aangekla word. Dit sluit die eerste verdagte in.”





