Suksesvolle vervolging van bedrieërs is een van die moeilikste sake om voor die hof te bring, dus is die beste oplossing om glad nie in dié strik te trap nie.

Só waarsku die polisie nadat nog vermeende slagoffers van ’n lugbraaier-verkoopsman vorendag gekom het.

Weslander het verlede jaar berig oor twee mans wat hulle as verkoopsmanne van lugbraaiers (air fryers) voordoen en met ’n silwerkleurige GWM-bakkie met die registrasienommer CF 246972 ry.

Een man het glo die praat werk gedoen en kom doen na bewering ’n lugbraaier-demonstrasie by jou huis, en wanneer die slagoffer een van die braaiers koop en sy eerste paaiement op die masjien betaal, word sy rekening glo leeggetrek.

Teen Desember 2021 was daar slagoffers in Laaiplek, St. Helenabaai en Vredenburg wat deurgeloop het.

Weslander is vandeesweek deur ’n vrou van Moorreesburg gekontak wat sê sy en van haar vriende is vermoedelik deur dieselfde verkoopsman ingeloop. Sy sê sy het ’n demonstrasie bygewoon waarna hulle die braaier wou aanskaf.

“Hy het ’n faktuur aan ons uitgemaak en gesê pensioentrekkers kry afslag op die braaier. Ons het die R200-deposito aan hom betaal; die oondjie was R12 000 en die afslag was R4 000,” het sy verduidelik.

Ná die aanvanklike deposito kon niemand die man weer in die hande kry nie.

Volgens die vrou, wat nie haar naam wil laat publiseer nie, het sy probeer om die saak by die polisie aan te meld, maar moes hoor dat niks aan die saak gedoen kan word nie.

Kapt. Tania Helfrich, Vredenburg-kluster se woordvoerder, het gesê sake soos dié van die vermeende verkoopsman is moeilik om op te volg omdat sulke kwaaddoeners so slinks is. “Klaers moet bewus wees van die feit as die beweerde oortreder ’n ‘vals’ produk te koop aanbied, sal hy of sy ook verdere vals besonderhede verskaf.

“Dit bly maar die veiligste om produkte (voertuie, toestelle, ens.) by bekende handelsplekke te koop en nie op sosiale media of deur-tot-deur-verkope nie. Met laasgenoemde nooi jy vreemdelinge in jou woning in, dus stel jy jouself en huismense daaraan bloot om slagoffers van ’n misdaad te word. Onthou, as dit te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik die geval!” maan sy.

Helfrich herinner dat elkeen ’n grondwetlike reg het om ’n klag aan te meld.

“In die geval van bedrog, moet die klaer net die kontaknommer van die beweerde oortreder verskaf, sowel as die advertensiebesonderhede, bankbesonderhede van die oortreder en hoe die betaling gedoen is.”

Sy sê die beste manier om sulke gevalle te vermy is om nie liggelowig te wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article