Bewaringslandboubeginsels kan Fusarium-kroonvrot by koring help bestuur.
Wes-Kaapse koringprodusente wat volgens bewaringslandboubeginsels boer, moet poog om geenbewerking met skyfplanters en wisselbou met breëblaarplante toe te pas om uitbreking van Fusarium-kroonvrot (FKV) te beperk.
Dít is die gevolgtrekking in ’n nuwe Suid-Afrikaanse studie oor die uitwerking van wisselbou en verskillende bewerkingspraktyke op die beheer van graansiekte, wat wêreldwyd kop uitsteek.
Die studie is deur Stephan Theron as deel van sy onlangse MSc-studies in agronomie aan die Universiteit Stellenbosch gedoen.
Bewaringslandboupraktyke soos wisselbou, die behoud van plant-residu en so min as moontlik versteuring van die grond word wyd in die Wes-Kaap se koringstreke toegepas.
FKV word veroorsaak deur die Fusarium pseudograminearum-fungus en kom wêreldwyd voor. Dit is ook een van die mees verwoestende koringsiektes in die Wes-Kaap. Dit beïnvloed die gehalte van koring en kan die opbrengs van oeste in sommige gevalle met tot 40% verminder. Deskundiges glo dit sal al meer voorkom en kan ’n al groter gevolg hê namate droogtes toeneem en langer duur.
“Die voorspellings is dat droogtes in die toekoms in die Wes-Kaap weens klimaatsverandering sal toeneem. Daarom is dit belangrik dat ons leer hoe om FKV plaaslik ten beste te bestuur en nie net bloot riglyne te volg wat in ander lande met ’n ander klimaat en grondsoorte as by ons opgestel is nie,” sê Theron.
Sy eksperimentele werk is uitgevoer as deel van bestaande langtermynstudies van grondgehalte op twee van die Wes-Kaapse departement van landbou se navorsingsplase: Tygerhoek in die Suid-Kaap en Langgewens in die Swartland.
Sy studie is deur die Suid-Afrikaanse Graanbedryftrust gefinansier.
Om die uitwerking van wisselbou te bestudeer, is die aanplant van graan in die 2020- en 2021-koringseisoene met óf canola (Brassica napus), lupine (Lupinus spp.) óf eenjarige medics (Medicago spp.) afgewissel. Die uitwerking van hierdie behandelings is vergelyk met koring wat as deel van ’n monokultuurstelsel geplant is.
Saam met elke wisselbou-aanplanting het Theron ook die invloed van verskillende bewerkingspraktyke getoets. Volgens sy bevindings werk die gebruik van wisselbou met breëblaar-gewasse goed om die voorkoms en graad van FKV te verminder, vergeleke met wanneer slegs koring voortdurend binne ’n monokultuurstelsel geplant word. Dit het ook die opbrengs en gehalte van die koringoes verbeter.
“Wisselbou met nie-gasheergewasse – in ons geval canola, medics en lupine – het almal die verskillende FKV-parameters verminder. Dis hoofsaaklik deur die siektesiklus gedoen en die opbou daarvan oor jare heen te verbreek.
“Die voorkoms en erns van die siekte is verminder met geenbewerking, waar meer gewas-residu op die grondoppervlak behou is. Hierdie praktyk beïnvloed nie die opbrengs of gehalte van die graan nie,” het Theron bygevoeg.
Met geenbewerking is sade vlakker geplant as tydens bewerking met grondversteuring. Dit lei daartoe dat die sub-kroon-internode (subnode) korter is as wanneer sade dieper geplant word. ’n Korter sub-kroon-internode (subnode) het gewisse voordele omdat ’n kleiner gebied wat deur die FKV-patogeen besmet kan word, beskikbaar is. Saailing-vestiging was beter – waarskynlik vanweë die beskerming van die hoër residuele ladings.
“Dit dra by tot beter FKV-bestuur, ’n siekte wat gewoonlik vererger as ’n droogte uitbreek,” sê Theron.
Plant-residu ontbind vinniger hoe minder grond versteur word – vermoedelik weens beter mikrobiese aktiwiteit. Dit help ook om FKV-vlakke te verlaag.
“Wisselbou bepaal die soort residu teenwoordig in ’n koringland, terwyl die bewerking die verspreiding en lading daarvan bepaal,” verduidelik hy.
Sommige van sy bevindings is in die vaktydskrifte Crop Protection en South African Journal of Plant and Soil gepubliseer. Sy studieleiers was prof. Pieter Swanepoel, voorsitter van die departement agronomie aan die Universiteit Stellenbosch, dr. Lindy Rose van die departement plantpatologie aan die US, en die produksiewetenskaplike dr. Gert van Coller van die direktoraat plantwetenskap van die Wes-Kaapse departement van landbou.
Volgens Theron is die invloed van FKV in Australië reeds teen 2009 op sowat 79 miljoen Australiese dollar per jaar bereken. “Die uitwerking daarvan op die Suid-Afrikaanse koringbedryf is nog nie gekwantifiseer nie,” sê hy.
. Theron het in Desember 2022 gegradueer en werk as ’n veld-landboukundige vir Adama Suid-Afrika in Kaapstad. Hy het in 2016 gematrikuleer aan Hugenote Hoërskool in Wellington. Hy het ’n liefde vir boerdery ontwikkel tydens vele familiebesoeke aan sy oupa se plaas in die Vrystaat. Voordat hy die MSc-graad in agronomie behaal het, het hy ’n BScAgric in plantpatologie en agronomie ook aan die US behaal.




