Ek lees onlangs op Netwerk24 twee berigte wat spreek van absolute teenpole tekenend van die huidige diskoers in Suid-Afrika.
Die eerste is die verhaal van ’n klomp oproerige studente wat die biblioteek van ’n universiteit omverwerp en in ’n chaotiese toestand agterlaat omdat hulle kwansuis ontevrede is oor die soort boeke wat in die biblioteek gehou word.
Die tweede berig gaan oor ’n professor wat oorlede is, wie se reuseversameling boeke nou as ’n nalatenskap bewaar gaan word.
Aan die een kant die bewaring van ’n boekeskat en aan die ander kant ’n poging om ’n soortgelyke skat te vernietig.
Nadat ek verlede jaar ’n klomp boeke moes wegmaak (dit was vir my ’n nagmerrie) toe ons afgeskaal en na ’n kleiner huis getrek het, het ek nou nog sowat 500 oor; my eie klein biblioteek.
Boeke is swaar en dit het nogal ’n gewigtige deel van die trek uitgemaak. Selfs die meubelvervoermaatskappy se werkers het gesweet om soveel bokse boeke na die boonste verdieping van ons nuwe woonplek op te dra.
Hierdie professor se boekery was egter in heeltemal ’n ander liga.
Om sy versameling van bykans 9 000 boeke na hul nuwe tuiste te vervoer, is dit in 149 bokse verpak, wat saam meer as vier ton geweeg het.
Die meeste mense sal wonder wat enige mens nou met so baie boeke wil maak. Hy kon tog seker nie almal gelees het nie?
Volgens die woordeboek staan ’n liefhebber van boeke bekend as ’n “bibliofiel”, terwyl “bibliomanie” verwys na ’n oordrewe sug om boeke te versamel.
Waar die skeidslyn tussen die twee lê, weet ek nie mooi nie.
Wat my eie boeke betref, het ek vir seker ook nie almal deurgelees nie. Wanneer ek egter ’n artikel skryf en my gedagtes lei my in ’n sekere rigting waarvan ek nie die detail ken of kan onthou nie, is dit baie gerieflik om dit gou in die regte boek te kan naslaan. Ek weet ten minste waaroor elke boek se inhoud handel indien ek dit sou nodig kry.
Maar hoe gebeur dit dat ’n mens so ’n groot boekery opbou?
Party mense sal wonder hoekom Google ’n mens nie sommer net as jy iets wil weet nie? Ongelukkig het Google ook maar sy beperkings en dikwels is van die inligting wat ek benodig nie op Google te vinde nie.
Op skool was ek nie lief vir lees nie. Later jare het ek besef dat daar op skool van ons verwag is om fiksie te lees, en ek is nie lief vir stories lees nie.
Ek stel egter baie belang in uitnemendheid in besigheid, die bestuur van mense en om mense in die regte loopbaan te sien wat by hul persoonlikheid en talente pas.
Wat is die geheim dat een besigheid baie suksesvol is, terwyl ’n ander een sukkel of selfs sy deure moet sluit?
Oor sulke en ander nie-fiksie onderwerpe kan ek my ure in boeke verwyl.
Daar is egter bitter min boeke oor sulke onderwerpe in biblioteke en aan die ander kant moet ’n mens bybly met die nuutste ontwikkelings in jou belangstellingsveld.
Van die professor se boeke word berig dat volgens die datums wat voor in sy boeke geskryf is, hy die meeste van sy boeke binne ’n jaar nadat dit die eerste keer gepubliseer is, gekoop het.
Daarom, naas pizza- en biltongwinkels is boekwinkels vir seker my gunstelinge. Ek loop nie maklik by een verby nie, nuut of tweedehands.
Dit bring egter mee dat ’n mens voortdurend gekonfronteer word met die feit dat jou boekrakke alwéér te min is en boeke is ook nie iets wat ’n mens maklik weggooi nie.
Boeke is geneig om permanente inwoners in jou huis te word.
Dink ek aan die studente wat die biblioteek verniel het, wonder ek of hulle regtig wil studeer, en hoekom hulle ander studente die geleentheid om te studeer, wil ontneem?
Dink ek aan die professor en sy boekery, was hy waarskynlik ’n wyse man met baie kennis en insig en ek sou hom graag wou ontmoet het.
My wens is dat elke mens minstens ’n deeltjie van die skat van woorde wat in ontelbare boeke opgesluit is, sal ontdek.• David Malherbe is ’n vryskutskrywer en woon in Langebaan.





