Woede is heelwaarskynlik die dryfveer agter twee moorde wat onderskeidelik in Piketberg en Saldanha gepleeg is.
In albei gevalle het ’n vurige stryery telkens tot geweld en uiteindelik moord gelei.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die plaaslike polisiekluster, is ’n vrou, Noheadman Fulela (52) van Piketberg, vroeër vandeesmaand dood in ’n woonwa gevind nadat sy en haar vriend stry gekry het.
Fulela en haar vriend was glo Vrydag 3 Junie omstreeks 23:15 in ’n woonwa op ’n erf in Woltemadestraat in ’n stryery betrokke. Volgens die eienaar van die huis waarlangs die woonwa geparkeer staan, het alles baie stil geword nadat die paartjie ’n luide rusie gehad het.
Volgens Helfrich het Fulela se vriend die volgende dag haar familie in die Oos-Kaap gekontak en hulle meegedeel dat sy op die N7 doodgery is.
Van Fulela se vriende het gaan ondersoek instel by die adres en die polisie gekontak. Sy is dood op die vloer van die woonwa met wonde aan haar mond en nek gevind nadat sy vermoedelik verwurg is.
Die polisie ondersoek die saak.
Nog ’n moord is Saterdag 18 Junie in Saldanha gepleeg nadat twee mans glo oor drank gestry het.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die stryery al vroegaand begin. Woede het uiteindelik daartoe gelei dat Charlton Pickard (29) van agter af met ’n mes gewond is. Hy het onderweg na die hospitaal aan die steekwond beswyk.
’n Man (26) is daarna op aanklag van moord in hegtenis geneem.


