Perlemoenstropers aan die Weskus is ’n gevoelige hou toegedien met die Saldanha-polisie wat Sondagnag (15 April) ’n magdom duiktoerusting, twee bote én gestroopte perlemoen afgevat het.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich het die polisie die stropers net voor 02:00 naby die Jacobsbaai-kruising voorgelê.
Die stroperbende het aangery gekom met twee bote en ’n klomp duiktoerusting.
Nadat die polisie hulle voorgekeer het, het die stropers in verskillende rigtings weggehardloop.
Die polisie het op 304 perlemoene en een kreef beslag gelê. Daar was 254 perlemoene en die kreef op die een boot en 50 perlemoene op die ander boot.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie glo dat dit die stropers se aktiwiteite tydelik in die wiele sal ry.





