Van links is Stiaan Viljoen (hoofborg van die Weskus Street Mile) saam met die manswenners Lorenzo Pieters (tweede plek, Langebaan), William Kaptein (eerste plek, Tymebank Langa) en John Hutchinson (derde plek, Langebaan). Heel regs is Rejani Willemse, bestuurslid van Boland-atletiek.


Ná vele myle gehardloop het die Langebaan-atletiekklub (LAC) se eerste Weskus Street Mile-reeks tot ’n einde gekom.

Die Weskus Street Mile-wedlope is oor verskeie Saterdae deur atlete van 9 tot 70 jaar en ouer in Langebaan gehardloop.

Dit was die eerste wedloop van sy soort en volgens Christopher Rodgers van LAC is die idee van die geleentheid nie net om atlete aan die hardloop te hou nie, maar ook om toerisme aan te wakker en só die hele gemeenskap te help.

Sowat 700 atlete van jonk tot oud het aan die reeks deelgeneem. Die skool met die meeste inskrywings vir die reeks was Sederberg Primêr en dit is geen verrassing dat die atletiekklub met die beste prestasies die gasheer, Langebaan-atletiekklub, was nie.

Rodgers en Leroy Jacobs, organiseerders van die reeks, bedank graag vir Stiaan Viljoen van Bheka Holdings vir die prysgeld van altesaam R56 000. Boland-atletiek, Rural & Para Athletix Development Academy, die Saldanhabaai-munisipaliteit, Langebaan Spar, Nolan Adams, Printeq, die Langebaan Country Estate en Weslander is ook vir hul bydraes bedank.

Volgens die organiseerders sou die wedloop nie sonder dié borge en medewerkers se hulp kon plaasvind nie. “Sonder hul ondersteuning sou dit net ’n droom gebly en nie gerealiseer het nie,” meen Rodgers.

Die twee bedank ook hul klub se komitee, die beamptes van die wedloop en die verskeie plaaslike atletiekklubs en skole wat dit ondersteun het, asook die atlete wat week ná week die 1,6 km, oftewel myl, aangedurf het.

Die manswenner van die eerste Weskus Street Mile-reeks was William Kaptein van die Tymebank Langa-atletiekklub, en Lee-Shay Willemse van Velocity was die top-vrou. Die res van die podiumplekke vir die mans het gegaan aan Lorenzo Pieters (tweede) en John Hutchinson, albei van die Langebaan-atletiekklub. Die tweede en derde plek vrouewenners was Quenisia Oosthuizen (Murray & Roberts-atletiekklub) en Natasha Jantjies (Langebaan-atletiekklub).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article