Hy is glo herhaaldelik met traangas gespuit en met ’n lid van die buurtwag se knuppel aangerand.

’n Jong man van Vredenburg, Garth Erasmus (21), het ’n strafsaak teen ’n plaaslike buurtwaglid gemaak, nadat dié betrokke lid hom glo aangerand het terwyl hy Saterdagaand 19 November na sy huis in Dirkie Uysstraat gestap het.

Garth se pa, Arthur, ’n plaaslike sakeman en self ook ’n betrokke lid van die Diazville-buurtwag in Saldanha, sê sy seun het Saterdagaand ’n draai by sy vriende gaan maak wat ook in Dirkie Uysstraat, Vredenburg, woon.

Om 23:00 het Garth besluit om huiswaarts te keer.

In die straat het hy en sy vriende toe glo twee verdagte vreemdelinge met bierbottels in hul hande sien ronddrentel.

Omdat Garth glo bekommerd was dat die twee verdagte mans in die woonbuurt moeilikheidmakers kan wees, het hy en sy vriende hulle uit die woonbuurt vergesel. Garth onthou een van die bierbottels het stukkend geval terwyl hulle gestap het.

Terwyl hulle terug huis toe gestap het, het Garth opgelet dat ’n voertuig hulle volg.

“My seun het die voertuig genader en gevra waarom hulle agtervolg word,” het Arthur vertel.

“Die man agter die stuurwiel het homself as ’n lid van die buurtwag voorgestel.

“Garth wou dit onder sy aandag bring dat hy en sy vriende in die gebied woon en op pad huis toe is, maar hy is nie kans gegee om te praat nie.”

Volgens Arthur het die buurtwaglid uit sy voertuig geklim en Garth herhaaldelik met traangas gespuit. Hy het glo Garth se selfoon stukkend gegooi en die jongman met ’n knuppel aangerand.

“Ander lede van die buurtwag het opgedaag en my seun geïntimideer en gedreig om hom verder aan te rand.”

Volgens Arthur is Grant daarna met beserings in die Life Weskus Privaathospitaal vir observasie opgeneem en ’n strafsaak is by die Vredenburg-polisie aanhangig gemaak.

Grant moes siekteverlof neem terwyl hy by sy pa se huis aansterk.

“ ’n Buurtwag is daar om die gemeenskap te beskerm en nie om een van hul eie mense aan te rand nie,” het Arthur gesê.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is die betrokke buurtwaglid (62) in hegtenis geneem. Hy moet op 8 Desember in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn.

“Die verdagte is ná die inhegtenisname op waarskuwing vrygelaat om in die hof te verskyn. Dit is algemene praktyk wat gevolg word aangesien die verdagte aan ’n mediese toestand ly. Die ondersoekbeampte is tans besig om die saakdossier ten volle te ondersoek deur onder meer getuieverklarings te kry.

“Die volledige saakdossier sal op 8 Desember voor die hof gelê word vir beslissing wat verdere vervolging sal bepaal,” het Helfrich verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article