’n Kringtelevisiekamera het op 17 Junie vandale afgeneem wat teen ’n lamppaal opgeklim het om te verniel en te steel.


Net opgeskorte tronkstraf . . .

André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) wat al baie jare lank by misdaadbekamping in Saldanha betrokke is, sê hy is baie teleurgesteld oor die ligte vonnis wat ’n kabeldief verlede week in die Vredenburg-landdroshof opgelê is.

Volgens Truter is baie bewusmaking in die gebied gedoen met betrekking tot samewerking tussen die gemeenskap, munisipale wetstoepassers en die polisie om die reuseprobleem van kabeldiefstal en die vandalisering van belangrike infrastruktuur hok te slaan.

Truter sê ’n inwoner van Diazville in Saldanha het hom op 25 September verlede jaar gekontak omdat sy na ’n openbare toespraak van hom, waarin hy die gebied se inwoners aangemoedig het om verantwoordelikheid vir hul eie dorpe te neem, geluister het. Sy het Truter daardie dag geskakel en gesê sy is bewus van koperkabeldiefstal en weet ook waar die skuldige hom dalk bevind.

Truter het die owerhede na die adres gestuur en hulle het ’n man gekry wat besig was om ’n vermoedelik gesteelde koperkabel in ’n nuwe dubbelkajuit-bakkie te laai. Die man is op die plek in hegtenis geneem.

Dié veroordeelde kabeldief het verlede Maandag (27 Junie) vyf jaar opgeskorte tronkstraf ontvang.

Truter sê hy is baie ontevrede met die vonnis aangesien dit ’n sterk boodskap aan boosdoeners stuur dat vandalisme nie in ’n ernstige lig gesien word nie en ook nie swaar gestraf sal word nie.

Volgens die burgemeester was die finansiële skade weens die vandalisering van munisipale infrastruktuur oor die afgelope vier jaar ’n skokkende R45 miljoen.

“Wat kon ons nie alles met hierdie geld gedoen het as ons dit nie moes bestee om infrastruktuur te vervang nie?” vra hy.

“Dis onaanvaarbaar dat belastingbetalersgeld aanhoudend gebruik moet word om infrastruktuur te herstel of te vervang.”

Hy sê vanjaar is die eerste keer dat die munisipaliteit genoodsaak was om te wag dat die nuwe boekjaar op 1 Julie in werking tree voordat straatligte reggemaak kon word.

“Die begroting was heeltemal uitgeput en dis ongehoord.”

Vir hom is dit ’n aanduiding van hoe drasties hierdie soort misdaad in die gebied toegeneem het.

Truter sê dit is noodsaaklik dat straatligte altyd aan is aangesien donkerte ’n groot gevaar vir inwoners inhou.

“Mense moet in die donker huis toe stap. Hulle word beroof en vroue word verkrag omdat die misdadigers hulle in die donkerte inwag en maklik ná die misdaad kan vlug.”

Volgens die burgemeester het dit onder sy aandag gekom dat vandale se sake uit die hof gegooi word omdat, volgens die departement van justisie, die sake glo nie goed deur die polisie ondersoek is nie.

Daarna is baie moeite gedoen om die polisie, buurtwagte en munisipale wetstoepassers se hande te vat om seker te maak almal werk saam en weet hoe om iemand ingevolge die wet op tweedehandse goedere en infrastruktuur aan te kla sodat die skuldiges nie weens administratiewe rompslomp of tegniese punte in die hof skotvry van hul misdrywe afkom nie.

“Ons het sulke goeie samewerking van die polisie gekry en ons kan werklik sê die ondersoek van die Diazville-geval is puik gedoen. Nou lyk dit of die probleem by die hof lê.”

Truter wil ’n skrywe aan Reagen Allen, die Wes-Kaapse provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-toesig, rig om te versoek dat die saak hersien en ’n swaarder straf oorweeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article