Munisipale werkers besig met opruimingswerk op die R44 in die rigting van Saron waar groot bome die pad versper het. Die pad is weer oop vir verkeer.Foto’s: Bergrivier-munisipaliteit


Terwyl groot dele van die provinsie letterlik die stukke optel in die nadraai van die verwoesting wat die afgelope naweek deur stormsterkte wind en swaar reënneerslae gesaai is, het die Weskus relatief lig daarvan afgekom.

Dit was nadat die Suid-Afrikaanse Weerkantoor Vrydag (5 April) verskeie vlakke waarskuwings uitgereik het vir stormagtige weerstoestande tussen Saterdag 6 en Dinsdag 9 April.

Dele van die Overberg, die Kaapse Wynland en die Helderberg is swaar getref met verwoestende skade wat aan infrastruktuur aangerig is. Skole was Maandag en Dinsdag in hierdie gebiede vir leerders gesluit.

Aan die Weskus is egter geen ernstige voorvalle in die vyf plaaslike munisipale gebiede aangemeld nie, sê die Weskus-distriksmunisipaliteit.

Die Bergrivier-streek het wel deurgeloop met enkele oorstromings wat plek-plek voorgekom het en ’n groot boom wat oor die N7-hoofweg tussen Eendekuil en Porterville geval en verkeer ontwrig het.

Volgens Matthew Sheldon, kommunikasiebeampte vir die Bergrivier-munisipaliteit, het Porterville die ergste skade gely met ’n hoofkragkabel, wat Porterville se inwoners van elektrisiteit voorsien, wat Sondag (7 April) weens die uiterste weerstoestande beskadig is en die dorp sonder kragtoevoer gelaat het.

Die kragtoevoer na die meeste huise is teen Maandag herstel.

“Groot skade is ook aan eiendomme, beide private en munisipale geboue, en elektriese infrastruktuur aangerig. In die meeste gevalle is die dakbedekking van huise en sakeondernemings beskadig en in sommige gevalle selfs deur baie sterk winde afgeruk. Verskeie groot bome het ook omgewaai, sommige het in die hoofpad van Porterville beland, wat tydelike verkeersvloeiprobleme veroorsaak het.”

Sheldon sê egter geen beserings is aangemeld nie.

In die Matzikama- munisipale gebied was kragonderbrekings ook aan die orde van die dag in Doringbaai, Klawer, Vredendal en Strandfontein.

’n Paar voorvalle is ook in die Swartland- munisipale gebied aangemeld, maar met geringe skade tot gevolg. Volgens Joggie Scholtz, munisipale bestuurder, het twee bome in Moorreesburg en een in Malmesbury omgeval, maar munisipale spanne het vinnig ingespring om die bome te verwyder en geen ernstige skade is aangerig nie.

“In Abbotsdale het ’n elektriese paal omgewaai en die lewendige drade het ’n gevaar ingehou vir nabygeleë inwoners. Die infrastruktuur behoort aan Eskom, maar die munisipaliteit se elektriese span het wel uitgegaan en die paal en lewendige drade beveilig om seker te maak dit hou nie meer ’n gevaar in nie. Die herstelwerk moet nog deur Eskom afgehandel word,” sê Scholtz.

Volgens Heinrich Robertson, ’n woordvoerder vir die Weskus-distriksmunisipaliteit, het hul rampbestuursentrum ’n bedryfsentrum (JOC) geaktiveer om verskeie noodreaksie- en humanitêre noodverleningspogings te koördineer wat weens die stormweer nodig sou wees, en ondersteun hulle steeds die provinsiale rampbestuursentrum met monitering en terugvoering.

Intussen het die Kaapse weerdiens by navrae bevestig dat 14 mm reën tussen Saterdag 6 en Dinsdag 9 April om 05:00 by die Cape Columbine-weerstasie, en 9 mm by die Langebaan-lugmagbasis, opgevang is.

Die sterkste windvlaag is Sondag vroegmiddag 7 April teen 17,7 m/s by Cape Columbine en 17,8 m/s by die Langebaan-lugmagbasis teen omstreeks 16:00 gemeet.

Volgens Stella Nake van die Kaapse Weerdiens is geen verdere waarskuwings vir vandeesweek uitgereik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article