Vertel ons meer oor hoe en waar jou liefde vir kuns ontwikkel het? Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma ons kinders altyd bewus gemaak het van die waarde van natuurlike en visuele skoonheid. Sy was ook baie kunssinnig en musikaal.
Was dit altyd jou droom om ’n kunstenaar te wees? Nie eintlik nie, want ek het in so baie dinge belanggestel. Ek was wel baie lief vir teken en alles waar teken ’n rol gespeel het, was op die horison, soos argitektuur, illustrasie en grafiese ontwerp. Eers toe ek tersiêr studeer het, het ek besef dat my passie vir skone kunste my beskore was.
Wat is jou kunsstyl en watter boodskap wil jy vir mense oordra deur jou werk? Ek glo nie dat ek ’n spesifieke kunsstyl beoefen nie en hoe ek op ’n spesifieke tyd gewerk het, is beïnvloed deur my intellektuele en akademiese betrokkenheid met inhoud en die sosio-politieke omgewing waarin ek myself bevind het. Dit kan wissel van politieke stellings tot persoonlike waarneming van die wêreld om my. Dit beteken dat ek die meeste van die tyd met inhoud werk wat my persoonlike siening uitbeeld en ek wil altyd meer as die eenvoudige visuele uitbeeld. Byvoorbeeld, ek werk tans met die tema van visserskuite in ’n stormagtige see en poog om in elke werk ’n storie te vertel.
Waar vind jy jou inspirasie en wat motiveer jou om jou kunswerke te doen? Ek sien baie van my kunswerke as landskappe en die natuur in alle vorms sal altyd ’n groot inspirasie bly. Ek gebruik ook die landskap as ’n platform om daarin ander simbole te plaas en gebruik soms ook geskrewe woorde as “wegwysers” en inhoud.
Hoe belangrik dink jy is kuns in ons samelewing? Ek sien alle vorms van die kunste – literatuur, drama en musiek sowel as al die visuele kunste en toegepaste kunste – as uiters belangrik in enige samelewing. Die geskiedenis het ons geleer dat die kunste altyd die welstand van enige samelewing reflekteer. Dit beïnvloed mense se bewustheid van hul sosio-politieke omgewing. Ek het self al aan menige protes- en bewusmakende uitstallings deelgeneem; dan ook aan geldinsamelingsuitstallings vir verskillende goeie doele.
- Wat is een van jou gunsteling-kunswerke en hoekom? Vandat ek en my vrou, die kunstenaar Sue Tatham, na die Weskus getrek het, werk ek aan die tema “Visserskuite in stormagtige see”. Ek versamel ook Art Deco-styl voorwerpe en hierdie “selfportret” is van my gunstelinge.
Wat is vir jou die mees uitdagende aspek wanneer dit by jou kuns kom? Ek probeer altyd om ’n intellektuele gedagtegang uit te beeld, sowel as om goeie waarnemingsvermoë te manifesteer. Tegniek speel dus altyd ’n groot rol, en soos alle kunstenaars probeer ’n mens altyd om te verbeter.
Vertel ons meer van jou jongste kunswerke? Soos reeds genoem, werk ek tans met die tema van die see. Ek doen baie rowwe sketse in monochromatiese mediums soos houtskool, maar ook kleurstudies. Ek neem ook baie verwysingsfoto’s van veral die visserskuite in St. Helenabaai se hawe. My hele palet het verander, want baie van my vorige landskappe is in die Sederberg-omgewing gedoen, met al die sterk warm kleure wat daar in die rotsformasies voorkom.
Wat is jou drome of visie vorentoe rakende kuns? Omdat ek vir baie jare van my lewe in die opvoedingswêreld was – meestal tersiêr – en ook in die wêreld van die toegepaste kunste, wil ek nou net op my skone kuns konsentreer. Ek wil my eie werk bevorder en van ons nuutgestigte Sandpiper Gallery in Britanniabaai verkoop.





