Kommer oor die stof wat van die langste Transnet-trein af wegwaai, het inwoners in Witteklip, Ongegund en Louwville gedwing om na hulp uit te reik.
’n Inwoner, wat glo verskeie inwoners in dié buurte verteenwoordig, voer aan hulle is bekommerd oor die langtermyngevolge van die grondstowwe wat van die bekende trein af wegwaai.
“Die spoor wat deur ons woongebiede loop en waarop mangaan in oop spoorwaens vervoer word, is nie veilig nie en verhoog die gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir ons mense,” sê die klaers.
Die groep kla ook glo dat onvoldoende kennisgewings met betrekking tot veiligheid by die spoorlyn aangebring is.
By navraag het die Saldanhabaai-munisipaliteit gesê die spoorlyn val nie onder sy jurisdiksie nie.
Ethne Lawrence, ’n woordvoerder vir die munisipaliteit, het wel gesê daar is samewerking tussen die twee instansies. “Die munisipaliteit help en werk saam met Transnet wanneer hulle bewusmakingsprogramme oor veiligheid by spoorwegkruisings in die munisipale gebied uitvoer,” het Lawrence gesê.
Mangaan is net een van die grondstowwe wat Transnet op die spoorlyn vervoer. Dié spoor strek van Sishen in die Noord-Kaap tot by die Saldanha-hawe vir uitvoer.
Benewens mangaan word ystererts ook met die spoorlyn vervoer.
Volgens die jongste uitgawe van die jaarlikse State of the Bay-verslag, het die uitvoer van mangaan uit die plaaslike hawe in die 2022-’23-boekjaar met 23% tot 5,76 miljoen ton gestyg.
Inwoners meen Transnet moet meer veiligheidsmaatreëls instel om die stof van die trein af te beperk.
Weslander het navrae aan Transnet Freight Rail gerig oor die inwoners se klagtes, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.
Intussen hoop inwoners Transnet bied antwoorde en stel ook verbeterde veiligheidsmaatreëls in.



