Die grootmenswêreld kan soms maar hard en ongenaakbaar wees. Soms kan dit so wreed raak dat jy maklik in hierdie einste grootmenswêreld jou sprankel vir die lewe kan verloor – veral in die feestyd. Geen wonder dat studies bewys het dat die einde-van-die-jaar-feestyd vir baie mense ’n bitter eensame tyd is nie. Wat vir die meeste van ons veronderstel is om ’n tyd van jolige samesyn te wees, is vir party ’n eensame wroeging.

Die redes hiervoor is legio. Wat egter ’n uitstaande feit en werklikheid vir baie grootmense geword het, is dat die lewe gewis nie net maanskyn en rose is nie. Dit kom met geen spesifieke waarborge of sekerhede vir die individu nie. Wat dit wel vir almal bied, is ’n goue geleentheid om die beste van elke dag te maak. Dit skep ook die ruimte om te kan droom en daardie drome te verwesenlik met die vermoëns en talente aan elkeen toegeken. Hierdie vermoëns en talente val egter nie uit die lug nie. Nee, dit wil ontdek word.

Onthou jy nog toe ons kind was, hoe ons gedroom het oor eendag?

Onthou jy nog hoe lekker dit was om net kind te kon wees en elke dag en oomblik jouself oor te gee aan die lekkerte van speel, leer en ontdek saam met maatjies?

As skoolvakansies aangebreek het, veral die een aan die einde van die jaar, het ons uitgesien na die swem in die plaasdam, die kattekwaad aanvang en saam eet en kuier by die bure. Namate ons ouer geword het, het jy as tiener geleer van die mooi tradisies in die gesin en die gemeenskap. Oukersaand is net voor twaalf Kersliedere gesing by almal se huise in die straat of buurt.

By sommige huise sou ietsie te eet of drink aangebied word. Die gees van die Kersseisoen was oral in die lug.

Vir die gesinne wat dit breed genoeg gehad het, is ’n Kersboom gekoop. Die versierings was ’n lus vir die kinderoog. As daar nie ’n kersboom vir ’n huis was nie, het die kerk of skool ’n Kersspel aangebied sodat elke kind in die vreugde van Kersfees kon deel. Mooi onthou-oomblikke is hierdeur geskep, want kinderhartjies is bly gemaak en dis daardie onthou-oomblikke wat vir jare daarna nog deel uitmaak van die kind en uiteindelik grootmens se verwysingsraamwerk.

Een van daardie onthou-oomblikke vir myself (as kind) was toe my broer vir my ’n rooi sportmotortjie vir Kersfees gekoop het. Snaaks, ek onthou dit soos gister, want dit in besonders het my kinderhartjie ekstra bly gemaak. En elke jaar het ons ouers seker gemaak dat elke kind ten minste ’n nuwe stel klere en skoene vir die feestyd het. Daardie stel klere sou so gekoop word dat dit deftig genoeg was om kerk toe te dra, want ja, almal moes die Kersdiens op Kersdag bywoon.

Die feestelikheid by die Kersmaaltyd was nog ’n hoogtepunt. Die familie uit die Kaap of van elders sou hul opwagting maak. As kind onthou jy die lag en vrolikheid wat met so ’n samesyn gepaard gegaan het. Die kinders sou bederf word met lekkernye tot die magies gekramp het van te veel soetgoed.

Nou is ons groot en daardie jare van onskuld en kindwees is net mooi onthou-oomblikke. Tye het inderdaad verander en ’n mens begin wonder of dit enigsins nog moontlik is om sulke mooi oomblikke vir die nuwegenerasie-kind te skep – nie net vir die kind nie, maar ook vir die self. Ek wil my verstout om te sê dit is wel nog moontlik. Dit is wel moontlik om weer die sprankel in die feestyd terug te sit. In ons kinderjare was daar ’n grootmens wat dit sy plig gemaak het om daardie vreugde en mooi onthou-oomblikke na ’n kinderhart te bring. Nou is dit ons beurt, as grootmense, om dieselfde vir ander te doen. Dit hoef nie ’n alleentyd vir iemand te wees nie. Dalk het ons blootweg net vergeet of versuim om na ander uit te reik soos wat dit vroeër jare die tradisie was. Daar lê soveel mooi in die tradisies van die verlede opgesluit. Dalk moet ons dit net weer ’n bietjie gaan afstof en binne ons nuwe werklikheid laat herleef. Dis beslis een van my oogmerke om hierdie jaar ’n paar vriende saam met my te nooi om by iemand se huis, net voor twaalf op Oukersaand, ’n paar Kersgesange te gaan serenade.

Nog ’n oogmerk van my is om hierdie jaar, saam met ander, ’n paar kinderharte bly te maak met geskenkies en lekkergoed vir Kersfees. Ek wil jou uitdaag om daai sprankel vir die feestyd in jou lewe te herontdek. Soos wat ons daardie sprankel terugsit, laat ons ook sommer kinderlik opgewonde raak oor die moontlikhede wat die lewe nog vir ons inhou. Al het die lewe ons al ’n paar harde knoue toegedien, is ons steeds bevoorreg om hier te kan wees.

Komaan, laat ons niks of niemand toelaat om ons uitsien na die vrolikheid van Kerstyd te bederf nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article