Om die uitdaging van voedselskaarsheid die hoof te bied, het Carl van Blerk ’n inisiatief genaamd Food Sock Meals in Maart vanjaar van stapel gestuur.
Van Blerk werk reeds die afgelope drie jaar aan maatskaplike projekte in die Suid-Kaap. Hy het gesien al hoe meer mense uit verskillende agtergronde sukkel om kos vir hul gesinne op die tafel te sit en hulle dan na goedkoper en onvermydelik minder voedsame opsies wend.
Om hierdie probleem die hoof te bied, is die Food Sock, in samewerking met die glanskok Francois Ferreira en die bekende sanger en verhoogkunstenaar Nataniël ontwikkel.
’n Food Sock (of koskous) bestaan uit gedroogde bestanddele, verpak in ’n plastieksokkie en is al wat nodig is vir ’n verskeidenheid klaargemaakte disse. Al wat nodig is om so ’n maaltyd voor te berei is water, ’n pot en ’n bron van hitte.
Die Food Sock is perfek gebalanseer, geurig en benodig geen ekstra bestanddele nie. Die produk is Halaal gesertifiseer en het ’n rakleeftyd van 12 maande.
Die huidige reeks bestaan uit tamatiebredie, pasta bolognese, hoender- en-groentesop, hoender breyani, hoenderpasta, skaapstowe, chakalaka met stampmielies en stowe, macaroni-en-kaas en melkkos. Een koskous kan ’n maaltyd aan vier volwassenes verskaf.
Een van die herverkopers aan die Weskus is Fred Strassberger, ’n afgetrede onderwyser. Sy wens is om voedselsekerheid in die gemeenskap aan te spreek en wel deur middel van die Food Sock.
Hy sê indien net 1 000 mense een keer ’n maand ’n Food Sock koop, kan 4 000 etes aan die kwesbaarste mense in die samelewing verskaf word. Strassberger beoog om verder saam met bestaande organisasies sonder winsoogmerk en kerke te werk.
Food Socks vind ook aanklank by ’n wye verskeidenheid ander segmente van die bevolking, soos studente, bejaardes, mense met besige skedules, stappers, mense wat kamp en selfs seiljagvaarders.
Daar is ook mense wat die Food Socks gebruik as ’n basis vir ’n wye verskeidenheid geregte. Deur byvoorbeeld vleis of ekstra groente by te voeg, kan een sokkie aan tot ses mense ’n voedsame ete verskaf.
. Kontak Strassberger by 082 872 4848 om by dié voedsame en broodnodige inisiatief betrokke te raak.




