Die Hayward-gesin: Janine en Henrico saam met hul drie kinders Elana, Janri (middel voor) en Henco.


Toe Henrico en Janine Hayward die nuus ontvang dat hulle ’n tweeling verwag, was hulle in die wolke.

Nooit het dié Saldanha-paartjie gedink dieselfde lot sal hulle weer tref soos tevore nie. Die tweeling, hul dogtertjie, Elana, en seuntjie, Henco, is in 2023 gebore. Hoewel Henco blakend gesond was, is klein Elana met dieselfde seldsame genetiese longsiekte, ABCA3, as haar ouer suster, Arike, gebore.

Henrico en Janine het Arike in 2016 in die wêreld verwelkom, maar moes die nuus in die gesig staar dat sy aan hierdie genetiese longsiekte ly en van suurstof en ’n ventilator afhanklik sal wees.

Arike het maande lank in die waaksaal deurgebring en is ongelukkig in Maart 2018 oorlede.

In 2022 het die paartjie uitgevind dat Janine weer swanger is, en met die eerste sonar is vasgestel dat dit ’n tweeling is – ’n seun en ’n dogter.

“Ons het verskeie dokters gaan spreek om seker te maak dat alles oukei is, maar met die tweeling se geboorte is Elana dadelik na die waaksaal toe en ons het geweet iets is fout,” vertel Henrico.

Met dié dat die hospitaal vol was, moes Elana oorgeplaas word na die Christiaan Barnard-hospitaal, wat goed op hoogte is van die mediese geskiedenis van die Hayward-familie.

Volgens Janine het hulle in ’n mate geweet dat dit moontlik is vir Elana om dieselfde siekte te hê as wat Arike gehad het, maar hulle het gehoop dit is nie so nie.

Die diagnose is kort daarna bevestig.

Elana se versorging by die huis sluit permanente verpleging, suurstof en soveel meer in.

Met die siekefonds wat nie alles dek nie en alles wat vir Elana beskikbaar moet wees, jaag die kostes by die dag hoër, sê Henrico en Janine.

Dus het hulle in November die Little Lung Foundation, ’n organisasie sonder winsoogmerk, begin om met hierdie kostes te help.

Hulle hoop ander kinders kan ook deur hierdie organisasie gehelp word – veral dié wat trachea-verwant is.

Die organisasie is belangrik vir die Haywards om hulle deur te dra en sal die hulp van die publiek opreg waardeer.

Al is daar nooit tyd om af te skakel en nie bekommerd te wees nie, glo Henrico en Janine daaraan om te alle tye met mekaar te kommunikeer.

“Ons vat dit dag vir dag en beskou elke dag as ’n geskenk.” . As jy met ’n skenking wil help, bel Henrico by 076 122 1884, stuur e-pos na 1111hhayward@gmail.com of besoek op Facebook The Little Lung Foundation vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article