In die moderne verbruikerswêreld van goedkoop massaproduksie het handgemaakte produkte ’n skaars en kosbare kommoditeit geword.
Min dinge is so betekenisvol as ’n handgemaakte geskenk wat met liefde en groot sorg vir iemand spesiaal in jou lewe uitgesoek word.
Kom ondersteun gerus Huis Wittekruin in Vredenburg se handwerkmarkdae elke laaste naweek van die maand (van Donderdag tot Saterdag).
Nie net sal jy unieke, handgemaakte en bekostigbare geskenke vir jou geliefdes hier vind nie, maar ook ’n verdienstelike saak ondersteun.
Volgens Karin Hubbard, bestuurder van dié tehuis vir bejaardes, word die geld wat deur die verkoop van handwerk by die handwerkmarkdae ingesamel word, vir Huis Wittekruin se bedryfskostes aangewend.
“Die inwoners wat die handwerk maak, is deel van ons kreatiewe klub en hulle skenk dit om te help om Huis Wittekruin se deure oop te hou,” het Hubbard verduidelik.
Die produkte wat verkoop word, sluit in handgemaakte popklere, gebreide poppe, hekelwerkprodukte, handsakke, voorskote, oorgetrekte hangers, gehekelde kinderklere en pragtige handgemaakte kostuumjuwele. Heerlike tuisgebakte koekies en lekkernye is ook gereeld beskikbaar, sowel as tweedehandse boeke.
“Hierdie handwerkvaardighede van die ouer geslag is besig om uit te sterf en raak skaars. Kom koop daarom gerus,” nooi Hubbard.
Sy sê handwerk en ander aktiwiteite wat die brein besig hou, word in die tehuis aangemoedig aangesien dit demensie en die agteruitgang van die brein op ’n hoë ouderdom teenwerk.
Die volgende mark vind van Donderdag 30 Maart tot Saterdag 1 April plaas.
Die mark is op hierdie drie dae elke dag van 09:00 tot 12:00 en 14:00 tot 16:00 oop.
Hou asseblief Huis Wittekruin se Facebookblad dop vir meer inligting.




