Die omstandighede waarin ’n kontrakwerker by die Tronox-minerale- skeidingsaanleg by Brand-se-baai, Lutzville, verlede week gesterf het, is steeds nie duidelik nie.
Werkers het Dinsdagaand 4 Julie op Bunid Recardo Miggel se oorskot in ’n put in die myn afgekom. Hy het vermoedelik van ’n 3 m hoë steierwerk afgeval.
Nozuko Basson, Tronox-woordvoerder, het die voorval bevestig en gesê dat Miggel vir die kontrakteursfirma Southey gewerk het. Southey is verantwoordelik vir die oprig van steierwerk en onderneem ook sandblaasprojekte by die myn.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die Lutzville-polisie ’n geregtelike nadoodse ondersoek geopen.
Miggel het Dinsdagoggend soos gewoonlik vir werk aangemeld.
Wanneer en hoe die ongeluk gebeur het, word nog ondersoek, maar werkers het omstreeks 23:00 op sy oorskot afgekom en die voorval aangemeld.
Basson het gesê dat die ongeluk by die sekondêre konsentrasie-aanleg gebeur het.
Miggel laat sy verloofde, Lindie Magdeline, en ’n dogtertjie agter.




