Die Kfm Best of the Cape-toekennings is terug. Die Weskus-, Bergrivier- en Swartlandgebied pronk met benoemings in verskeie kategorieë.
Die Swartland het vier benoemings. Desert Rose is as beste padstal benoem, Darling Brew as die beste plaaslike boetiekbrouery en Rosemead Bakkery in Yzerfontein as die algehele beste bakkery. Yzerfontein is ook as die beste dorpie benoem.
In die Weskus is Deli on Main in Dwarskersbos as die beste padstal benoem en Nieuwedrift Restaurant in Piketberg as die beste gesinsrestaurant.
Die Best of the Cape-toekennings vereer die beste wat die Kaap aanbied en word deur die luisteraars self gekies.
Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, sê die benoemings in die Swartland wys plaaslike ondernemings in die gebied lewer besonderse diens asook produkte aan besoekers van heinde en ver.
“As plattelandse ondernemings hoef hulle nooit terug te staan vir sakeondernemings in die metro’s nie. Entrepreneurs en soortgelyke ondernemings is die rugsteun van die plaaslike ekonomie. Hulle skep werksgeleenthede vir inwoners en dra by tot die vergroting van die plaaslike waardeketting,” sê Cleophas.
Cleophas voeg by dit is inderdaad ’n pluimpie vir hierdie benoemdes.
“Ons is trots op ons vier benoemings en wil hulle graag namens die raad gelukwens. Ons wil ook al ons inwoners aanmoedig om hierdie ondernemings te ondersteun en vir hulle te stem.”
Stefan Grobler, die eienaar van Deli on Main, sê die toekennings wys dat klein dorpe raakgesien word. Dit is Deli on Main se derde keer in ’n jaar dat hy in die kategorie benoem word, en vir Grobler is dit ’n groot eer. “Ek is baie trots op die prestasie en die besigheid. Dit wys ook dit wat ons doen, doen ons reg. Hierdie kompetisie is groot en het ’n groot impak op ons,” voeg hy by.
Grobler bedank al sy kliënte van plaaslik tot dié van ver. Hy moedig ook almal aan om te stem.
Om jou stem te laat tel, besoek kfm.co.za/bestofthecape/.





