Caesar Sauls, Julie Williams en Abbah Smith sal binnekort ’n 425 km-staptog ten bate van Mfesane se positiewe vaderskap-program aanpak.


Vier stappers sal in Augustus die langpad aandurf vir ’n staptog vir vaderskap.

Saam sal die stappers die 425 km tussen Piketberg en Springbok stap as deel van ’n “Camino-staptog”.

Abbah Smith pak die tog aan om ’n fokus op die program vir positiewe vaderskap, iets wat dikwels in die samelewing ontbreek, uit te lig.

Smith, van Vredenburg se departement van maatskaplike dienste, is geen vreemdeling wat langafstande betref nie, gesien hy reeds aan die Comrades-marathon deelneem. Smith en sy medestappers, Julie Williams, Hendrien van Zyl en Caesar Sauls, het hul voorbereiding vir die tog gedoen.

In April en Mei het die stappers twee suksesvolle toets-staptogte van 45 km, tussen Piketberg en Citrusdal, gestap.

Smith meen positiewe ouerskap is ’n dringende nood wat beslis aangespreek moet word, ook hier aan die Weskus.

’n Volledige program is gevestig met Mfesane, ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk, wat jare lank reeds met families in die Weskus werk. Die positiewe vaderskap-program is een van dié organisasie se projekte.

Enige geld wat deur die “Camino-stappers” ingewin word, sal aan Mfesane geskenk word. Dié hupstoot sal aangewend word om die voortbestaan en uitbreiding van positiewe vaderskap-programme te verseker.

Die stappers nooi individue, instansies en ondernemings om die staptog te ondersteun met ’n minimum van R1 per kilometer wat gestap word.

Die 11 dae lange tog sal op Saterdag 19 Augustus in Piketberg begin.

. Vir meer inligting oor die positiewe vaderskap-program of die staptog, kontak Abbah Smith by 083 996 0770 of Mfesane by 022 713 2793.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article