Die bekendstelling van die nuut verlengde Bakoor- roete op Vrydag 18 Augustus was ’n reusesukses.
SANParke se ereveldwagters wat as vrywilligers werk, het dit op hulself geneem om die roetes van die Weskus Nasionale Park te evalueer en opgraderings aan te bring waar nodig.
Die oorspronklike Bakoor- roete het uit altesaam 5,2 km bestaan. Die roete is nou verleng om opwinding en die ervaring van ander uitsigte te bring.
Die roete sal by die Langebaan-hek van die Weskus Nasionale Park begin. Volg die groen roete (ongeveer 2,6 km) tot by die Seeberg-uitkykpunt, met die geel roete (ongeveer 2 km) af na die strandmeer en volg dan die blou roete terug na die hek. Die roete gaan verby die Seeberg-voëlskuiling waar besoekers ook hierdie ervaring op hul stoppunt kan plaas.
Charlene Adams, hoof van die Weskus Nasionale Park, sê sy is baie tevrede en opgewonde oor wat die roete aanbied.
“Ons glo dat die Bakoor- roete ’n invloed op ons besoekersgetalle sal hê en dit ’n hupstoot sal gee. Die roetes is spesiaal in die opsig dat dit gedeeltes van die park wys wat besoekers nie op ’n ander manier sou kon sien nie.”
Dries Venter, voorsitter van die Weskus-streek se SANParke-ereveldwagters, sê die Weskus Nasionale Park is bekend vir sy jaarlikse blommeprag en diverse voëllewe. “Die staproete(s) bied aan die Weskussers en besoekers ’n geleentheid om die park en sy natuur dwarsdeur die jaar te geniet. Goeie staproetes is ook belangrik vir plaaslike en buitelandse toeriste wat die park besoek,” sê Venter.
Venter voeg by dat die volgende twee staproetes rondom Geelbek, naamlik die Duine- en Strandveld-roetes, nou sal volg. Hulle beplan ook om ’n soortgelyke benadering ten opsigte van fietsry-roetes te volg.
“Die staproetes se vernuwing en opgradering bied die besoeker ’n kans om die park en sy natuur te belewe en te waardeer.
“Die navorsing en beplanning het ongeveer drie maande geneem en die implementering ongeveer een maand.”. Die Suid Afrikaanse Nasionale Park-week vind tussen Vrydag 16 en Sondag 24 September plaas. Mense kan die Weskus Nasionale Park dan gratis besoek.





