My pa het sy lewe lank in die staatsdiens gewerk. Toe ek nog klein was, was die staatsdiens-afdeling waar hy gewerk het selfs Saterdae van 08:00 tot 13:00 oop en was dit gevolglik altyd vir hom ’n werkdag.

Hy was ’n harde, ywerige werker. Toe ek in die hoërskool was, onthou ek, het hy elke oggend 04:00 opgestaan en tot 06:00 by die eetkamertafel gaan sit en werk en dan klaargemaak om werk toe te gaan.

Op ’n dag het ons gepraat oor stakings en sy woorde was sy werk is ’n noodsaaklike diens aan die publiek en daarom word hulle volgens hul diensvoorwaardes verbied om te staak.

Deesdae wens ek dikwels dit was glád nie nodig om met die staat besigheid te doen nie. Ek sien op daarteen om bv. ’n nuwe motorlisensie, bestuurderslisensie of paspoort te gaan kry, nog meer so om die SAID-kantoor te besoek. Dit voel my ek begin al hoe lank voor die tyd stres optel, want al wat ek in my geestesoog sien, is ure en ure se wag in kilometer lange toue.

Ons land kry swaar en die staat se finansiële bronne is uitgeput, dus verwag ’n mens dat die SAID alles in hul vermoë sal doen om belastingbetalers te help om elke moontlike rand wat hulle kan, in te vorder. Maar nee, hul werkers het onlangs vir meer as ’n week gestaak.

Dit is deesdae geen maklike saak om by enige SAID-kantoor gehelp te word om belastingkwessies uit te sorteer nie. Dit is verlammend as jy dringend uitklaring oor iets moet kry, maar eers oor ’n maand ’n afspraak kan kry, en dan net één saak mag bespreek. Wanneer jy bel, kan jy verwag om ure lank aan te hou en dalk later afgesny te word, of die telefoon word net glad nie beantwoord nie. My vrou doen boeke, so ek weet van die enorme frustrasies.

Om so te moet sukkel om jou belasting regmatig te betaal en dan te hoor dat ’n regter die SAID berispe omdat hulle R600 miljoen “verloor” het, is genoeg om enige getroue belastingbetaler se gemoed te versuur.

Boonop word besighede wat hul BTW-opgawes één dag laat indien onmiddellik met 10%, plus rente op die uitstaande bedrag, beboet. Indien die SAID egter vir jou BTW of ander belasting moet terugbetaal, is dit ’n perd van ’n ander kleur. Rekenmeesters raak moedeloos oor die baie werk of tyd wat hulle moet insit om sulke terugbetalings vir hul kliënte te verseker.

Aan die een kant word ons almal verplig om van tyd tot tyd met die staat besigheid te doen, maar hulle het meestal nie die vermoë of kapasiteit om ons te help nie. Indien ons as gevolg daarvan nie betyds ons verpligtinge kan nakom nie, moet verbruikers weer eens die spit afbyt en boetes betaal.

En nou is die strooi wat waarskynlik die kameel se rug kan breek die feit dat die 1,3 miljoen staatsdienswerkers dreig om vir hoër salarisse te staak.

Eerstens kan die staat net eenvoudig nie die verhogings wat die vakbonde eis, betaal nie. Volgens prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool is die staatskas besig om die fiskale afgrond te nader, dit wil sê, wanneer alle staatsinkomste ingesluk word deur salarisse, welsyntoelaes en rente op skuld.

Tweedens is so ’n staking vir elkeen van ons wat reeds moedeloos gesukkel is om met die staat te kan besigheid doen, ’n klap in die gesig. Al wat ek voorsien, is net nog langer toue en nog meer frustrasies vir die verbruiker.

Ons land is beslis nie op ’n goeie plek nie. Soos ek al voorheen in hierdie rubriek geskryf het, sê ek weer: “’n Land se ekonomie kan net soveel slae verduur voordat dit knak.” ’n Groot staking in die staatsdiens kan waarskynlik net daardie laaste ramp wees om Suid-Afrika oor die wal na ’n volskaalse resessie te suur.

Ek wens van harte vakbonde kan ’n ander bedingingsmeganisme as stakings kry, want tesame met hemelhoë brandstofpryse en beurtkrag, is die omvang van stakings besig om ons land na die ashoop toe te stuur.

. David Malherbe is ’n besigheid- en loopbaankonsultant van Langebaan. E-pos hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article