Twee Weskussers het verlede week hul verskyning in die splinternuwe werklikheidsreeks Plaasjapie, wat Donderdae op kykNET te sien is, gemaak.
Deon Terblanche van Saldanha en Edward “Bean” Hill van Langebaan het besluit om hulle vir die ervaring in te skryf en hul stadslewe vir die plaaslewe te verruil.
Die res van die deelnemers strek so wyd as van Kleinmond tot Kriel en bestaan uit manne en vroue van 24 tot 55 jaar oud.
In die reeks moet deelnemers kaalhand ’n verskeidenheid boerdery-aktiwiteite en -uitdagings, wat hul uithouvermoë of wilskrag toets, sonder katoeters of moderne tegnologie aanpak.
Plaasjapie is ’n eg Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks wat op ’n oop stuk grond van vyf hektaar op ’n plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus verfilm is.
Bean het aan Weslander vertel hy was in sy element toe hy op die plaas aankom en sien waarmee hulle sal moet klaarkom – iets waarmee hy baie bekend is in sy avontuurlustige lewe.
Terblanche vertel op sy beurt hoewel dít waarmee hulle moes werk uiters beperk was, en die weer alewig verander het, het hy besef dit gaan nie net rof wees nie, maar ook pret wees.
Hy het ook die belangrikheid van spanwerk uitgelig.
Bean en Terblanche mag nie veel uitbrei oor hul ervaringe nie, maar glo elke deelnemer het iets geleer en kykers sal ook iets leersaam kan wegneem.
Terblanche en Bean sê al die deelnemers het hul eie storie en dit word in die program oorgedra. Terblanche sê dit sal ons ook wys en leer dat almal tot meer in staat is as wat hulle dink, ongeag wat die situasie is.. Plaasjapie is Donderdae om 20:00 op kykNET kanaal 144 te sien.





